Brandslagoffer kom tuis
2009-10-15
SES maande nadat ’n slagoffer van die Paarl Print-brand by die dood omgedraai het, is hy volstoom reg vir die lewe. As Hylton Vaughan (35) begin praat oor daardie tragiese dag op 17 April, kan ’n mens die hartseer in sy oë sien. Maar dan ook het dit ’n nuwe deur in sy lewe oopgemaak wat vir hom laat vorentoe streef. Vaughan kan steeds daardie dag soos gister onthou. “Ons het net aan diens gekom en ek het oudergewoonte met my pligte in die bindery voortgegaan. “Maar skielik het dinge vinnig verander toe die brand uitgebreek en rook die bindery ingeborrel het. Almal het roetes gesoek om te ontsnap en ek was goed op pad na buite, toe ek omdraai agter ’n kollega aan wat die pad byster geraak het. “Teen dié tyd was die vuurpoel kort op my hakke en ek het uit die pad gespring in ’n klein gangetjie in.” So het Hylton se lewensveranderende ervaring begin. “Die rook was pikswart voor my oë, soveel so dat ek nie eens my hand voor my gesig kon sien nie. “Ek het op my rug gelê en wonder hoe ek hier gaan uitkom. Ek was vreesbevange. “Ek het begin voel asof ek my bewussyn gaan verloor, maar ek het besef as dit gebeur sal ek nie lewendig hier uitstap nie. “Dit is toe dat ek vir God ontmoet het, en ek het vir hom vra om vir my te help. Hy het vir my op my voete gebring en na veiligheid gelei.” Teen die tyd wat Vaughan weer die daglig gesien het, het hy byna 40% brandwonde oor sy liggaam gehad en sy een long het weens rookinaseming platgeval. Hy is in ’n uiters bedenklike toestand na Paarl MediClinic geneem waar hy vir vier weke in die intensiewe-sorgeenheid geplaas is. Daar is dikwels gevrees dat hy die veertiende slagoffer van die brand sal word. Maar Vaughan het geveg om te oorleef. “Ek het besef dat ek nog nie al die dinge in die lewe bereik het wat ek wil nie. Ek is ’n tweede kans gegun en gaan die beste daarvan maak. “Ek wou ook aanmekaar teruggaan na my werk by Paarl Print om deel te wees van die herbouing van die besigheid.” Alhoewel Vaughan weer begin werk het, is daar steeds ’n lang pad wat voorlê na genesing, met onder andere aangaande arbeidsterapie weekliks om sy hande te versterk. Maar Vaughan dink steeds daagliks aan die dertien slagoffers wat nie so gelukkig soos hy was nie. “My fisiese letsels sal genees, maar diegene wat hul geliefdes verloor het, sal nooit weer saam met hulle kan wees nie. Ek dink baie aan hulle.” Maar Vaughan beweeg vorentoe. Hy voel dat hy ’n beter en sterker persoon is ná die beproewing wat hy ervaar het, en hy sien uit na ’n blink toekoms as nuwe mens. * A victim of the Paarl Print fire has returned to work six months after the fire.
More
News
|