Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Motoriste ry mure plat

Motoriste ry mure plat
 
2009-10-15


DIT was ’n rowwe naweek op plaaslike paaie met talle ongelukke wat plaasgevind het waarin drank en roekeloosheid waarskynlik ’n groot rol gespeel het.

’n Bejaarde vrou was byna die slagoffer van een van hierdie ongelukke, toe ’n motor omstreeks 01:30 Sondagoggend deur die veiligheidsmuur van Groenleegte-aftree-oord in Hoofstraat, Noorder-Paarl, geploeg het en byna in haar slaapkamer beland het.

Sylvia van der Westhuizen vertel hoe sy in die middernagtelike ure deur ’n spoedvraat uit haar diep slaap geruk is: “Dit was ’n moerawiese slag. Ons was heeltemal deurmekaar toe ons op hierdie wyse wakker geskrik het.

“Dit het geklink na ’n ontploffing. Ons is uiteindelik na buite en het met skok gesien dat ’n Toyota bakkie in my erf staan. Die voorkant en passasierskant is erg verfrommel deur die slag. Maar daar was geen teken van ’n bestuurder nie.”

Na bewering was die motoris vanaf ’n kuierplek in Wellington na sy woning in Denneburg onderweg. Hy het beheer oor sy bakkie verloor by Tafelberg Meubels, ’n lamppaal met so ’n slag getref dat dit heeltemal ontwortel is, en daarna deur die muur van Groenleegte geploeg.

“Hy het so byna in my huis vasgery en baie skade aan my netjiese tuin veroorsaak. Talle van my blombakke en ornamente is daarmee heen.

Die eienaar, Douw Willemse van Denneburg, is uiteindelik opgespoor en aangekla van roekelose bestuur.

Saterdagaand het nog ’n motor deur ’n muur gery, dié keer in Zionstraat, Paarl.

Inwoners van Huis Vergenoegd en Klein Boishaai se koshuis op die hoek van Pontac- en Zionstraat, is omstreeks 23:00 ook uit hul slaap geruk, toe ’n wit Fiat Uno deur die muur tussen hierdie twee persele gery het.

Chaos het hierna geheers met ’n groep jong mense wat verward op die toneel rondgestaan het.

Een meisie het oënskynlik ’n beenbesering opgedoen, maar wou nie deur paramedici wat op die toneel aangekom het, gehelp word nie.

Alhoewel die polisie op die toneel was, kon die bestuurder van die motor nie vir drink en bestuur aangekla word nie, want niemand wou erken wie die motor bestuur het nie.

Sondagaand is ’n vrou beseer toe die motor waarin sy ’n passasier was, reg van voor deur ’n ander motor getref is.

Die voorval het om 20:00 gebeur op die Simondium-pad, toe ’n VW Jetta vanuit die plaas Plaisir de Merle gedraai het in die rigting van die Paarl, en reg voor ’n aankomende voertuig beland het.

Volgens ooggetuies het die bestuurder van die Jetta, James Kose, uit die motor gestrompel, oënskynlik in ’n besope toestand, en agter in die voertuig gaan lê.

Sy vroulike passasier, het op die voorste sitplek neergesak en bloed het uit haar voorkop gestroom.

Kose is na die Paarl Hospitaal geneem waar sy bloed getrek is vir forensiese toetse, en hy sal op 12 Januarie 2010 weer in die hof verskyn op aanklag van bestuur onder die invloed van drank.

* ’n Man is Saterdagmiddag sy motor kwyt toe hy op Bainskloof-pas stilgehou het en vergeet het om sy handrem op te trek.

Die Audi het stadig vorentoe beweeg en sowat 120 meter ver by die rand van die berg afgery.

* Various vehicle accidents took place this past weekend, of which many were marked by alcohol abuse and recklessnesson the part of motorists.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za