Toneel in sy bloed
2005-09-01
TONEEL is in sy bloed, maar saam met dit is Merlin Balie ’n beginselvaste jongman wat nie kompromieë sal aangaan net om werk te hê nie.
Merlin, ’n gebore en getoë Paarliet, het onlangs mense laat regop sit in die rol van die ongebalanseerde Werner in die gewilde sepie 7de Laan op SABC2.
Nou is hy ’n huishoudelike naam en oral waar hy gaan vergaap die mense hulle aan hom: “Hy is dan so vriendelik, glad nie soos Werner nie.”
“Ek sou ’n vriendeliker rol verkies het, maar ek het ’n bietjie meer geleer uit dié rol - dit het meer vleis gehad,” glimlag hy. Merlin vertel dat hy reeds twee jaar gelede by sy agent oudisies gedoen het vir 7de Laan.
Vroeër vanjaar het hulle laat weet dat hulle ’n rol vir hom het, en op 1 April het hy op stel gegaan.
En dit was harde werk. Kykers sien nou wel net ’n halfuur elke dag, maar die span is van halfagt in die oggend tot halfagt in die aand besig, vyf dae per week.
Daar word gepoog om elke dag twee en ’n halwe episodes te skiet. “Ons begin om halfagt met grimering en repitisies vir die dag se skietwerk.
“Tienuur begin die ‘scenes’ en dan moet ’n mens maar wag tot jy aan die beurt kom.”
Hy beskryf die akteurs as “plat op die aarde” mense by wie hy baie geleer het.
Merlin het matriek geskryf by Paulus Joubert Sekondêr, maar hom nie veel gesteur aan drama nie.
“Ek was eintlik bang vir drama, en het gaan bemarking swot na skool.”
Die toneelgogga het egter begin knaag en hy het bemarking gelos vir drama.
“In 1998 was ek die oudste eerstejaar in my klas,” lag hy. Eers dan besef jy die man het al hardebaard en ja, hy is 30 jaar oud.
Sedertdien het hy menige draai op die verhoog gemaak, onder meer in “Kanna Hy Kô Huistoe” en “Oom Wanja”, saam met Anna-Mart van der Merwe en Marius Weyers.
Mense sal hom ook onthou vir die drie Castrol-advertensies waarin hy gespeel het.
“Tussenin het ek heelwat produksies vir maatskappye gedoen, wat goeie geld is, én interessant.”
Hy het ook saam met Clint Brink in die rolprent “Dollars and White Pipe” gespeel en het ’n rol in “Boy called Twist”.
Dit is met hierdie rolprent wat Merlin vas gestaan het vir sy beginsels. “Ek is ’n wedergebore Christen en glo dit is onaanvaarbaar om te vloek of te laster.”
So het hy dan ook die regisseur oortuig om vloekwoorde en ook die Here se Naam te vervang vir sy karakter.
Dit is duidelik dat Merlin diep dink oor die lewe: “Ek wil graag ’n goeie rolmodel wees vir die jeug.
“Ek glo sodra jy dinge begin doen vir ander mense, begin jy regtig lewe.
“Finansies, omstandighede hoef jou nie te stop om jou drome te bewaar nie”
En sy eie drome? Merlin wil graag in die volgende jaar of twee in ’n sepie soos Isidingo of Generations speel. En dan staan sy kop ook Amerika toe.
“Ek stel ook belang in regie. Ons het nie op universiteit veel geleer van kamerategniek nie en daar was 7de Laan ’n goeie leerskool gewees.
Hy skryf stand-up komedie, eenmanvertonings en ook gedigte. Merlin kuier nou by sy ouers, Hans en Maureen Balie, terwyl hy kyk wat die toekoms inhou.
’n Innemende, warm mens, maar met ’n stille vasberadenheid wat hom nog na groot hoogtes gaan neem.
* Skole of ander organisasies wat hom intussen wil gebruik vir motiveringspraatjies, kan hom kontak by 862-5702 of 082-228-1775.
More
News
|