Kinders moet nou opsaal
2009-10-15
LEERLINGE van hoërskole in Drakenstein wat belang stel in perdry en graag wil betrokke raak by uithouritte, sal moet begin opsaal. In ander provinsies neem skoolspanne reeds aan uithouritte deel en die Enduring Riding Academy, wat die opleiding gee in die Paarl, wil so gou moontlik skoolspanne vir uithouritte inskryf sodat hulle kompeterend kan begin deelneem. Uithouritte word allerweë beskou as een van die beste toetse vir ruiters. Perd en ruiter word vir uithouvermoë en strategiese ruiterkuns getoets. Ruiters moet deeglike kennis van hulle perde hê en ná elke skof word perde deur veeartse ondersoek om te verseker dat die perde nie ooreis word nie en wel verder kan deelneem. Klasse word hoofsaaklik vir hoërskoolkinders (14 jaar en ouer) beplan, maar outjies vanaf 10 kan ook reeds begin. “Ons wil ook graag hê dat instansies of individue wat iemand wil borg, ook na vore moet kom,” sê Marius de Swardt. “Ongelukkig kan ruiters onder 14 jaar nie aan kompetisies deelneem nie. Maar ons nooi ervare ruiters sowel as beginners uit om te kom deelneem. Al was jy nog nooit op ’n perd se rug nie, is jy welkom, want ons het ervare personeel wat lede is van ERASA, wat jou sal leer ry. “Kinders wat nie hul eie perde het nie, is ook welkom. Die kostes vir die opleiding sal individueel vir elkeen uitgewerk word. Die Akademie voorsien ook toerusting vir wanneer daar aan kompetisies deelgeneem word. “Tydens die kursus sal leerders in alle aspekte van die ruiterkuns onderrig word. Opleiding sal twee keer per week geskied, met naweek sessies wat effens langer sal duur,” sê hy. Uithouritte word huidiglik deur meer as 100 lede in die Western Province Endurance Club, een van die ses klubs in die WP-unie beoefen, en dit vind al hoe meer byval by kinders, vertel Marius. Dié akademie, wat deel is van die Western Province Endurance Club, is geleë op die skilderagtige DeVine Estate op die Du Toitskloofpas so 4km buite Paarl. Al die akademie se perde en van die ruiters se eie perde sal daar op stal wees. Vir navrae, kontak Marius by 082 784 8948.
More
News
|