Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Raadslede pak uitdagings

Raadslede pak uitdagings
 
2009-10-15

Liezl Dyson

LEDE van die Paarl Junior Stadsraad het Saterdag ’n groep kinders van Helping Hands, ’n kinderhuis in Wellington, met verskeie aktiwiteite, kos, lekkernye en sommer ’n bietjie liefde en aandag bederf.

Die raad het gereël dat die jongspan die dag saam met hulle spandeer by die La Rochelle-hokkieveld, waar hulle met die kinders kon speel.

“Dit is die Junior Stadsraad se gebruik om funksies te reël en dan die wins te gebruik om terug te ploeg in die jeug,” het Nicola Kaden, junior burgemeestersvrou, gesê.

Die raad bied ’n geleentheid om jeugleiers te kweek uit alle gemeenskappe. Dit is in die 1980’s gestig deur Brenda Pagel, wat onlangs onverwags op ouderdom 71 oorlede is.

“Tannie Brenda het destyds gesien dis nodig om die kinders van verskillende skole saam te bring sodat hulle van mekaar se verskillende kulture kan leer,” het Nicola gesê.

Saterdag was die groep se eerste groot geleentheid wat hulle sonder Pagel gereël het en dié jongklomp is baie trots op hulself.

“Met Tannie Brenda was alles altyd gereël en ons was nooit bekommerd oor reëlings nie, maar dié keer moes ons self ons eie kontakte gebruik en rondbel om mense te nader.”

Die lede het met die hulp van hul nuwe koördineerder, Molly Minitzer, by verskeie plaaslike besighede borgskappe gereël om dié dag ’n groot sukses te maak.

Volgens Minitzer het sy nog net haar leerlinglisensie as dit by dié klomp se aktiwiteite kom.

Die raad het gereël dat die kinders sokker speel, daar was ’n springkasteel en gly-baan om op te baljaar, hulle kon hul gesigte laat verf en het hamburgers en lekkernye gekry.

Danie du Toit, junior burgemeester, meen sedert hy by die raad betrokke geraak het, het hy besef dat daar soveel is wat hy vir ander mense kan doen en het hy baie meer geleer van menseverhoudings.

“Voor ek betrokke geraak het, het ek in ’n bubble gelewe en ek het gedink almal is ryk en almal se ma is ’n huisvrou, maar die realiteit is die wêreld is nie so wel-af nie en ek dink dis goed dat ek op so ’n vroeë ouderdom dit besef het, sodat ek iets daaraan kan doen,” het Danie gesê.

Dié twee meen ook dat hulle nuwe vriende deur die Junior Stadsraad ontmoet het.

“Ons het goeie vriende wat by Klein Nederburg Sekondêr en New Orleans Sekondêr skoolgaan en ons sou hulle seker nooit ontmoet het nie as dit nie vir die Junior Stadsraad was nie.”

Volgens Nicola het die raad oor die jare gegroei sodat al hoe meer leerders begin betrokke raak. Die blink-oog junior burgemeestersvrou is vol entoesiasme terwyl sy vertel van die leerders wat kom hand bysit het wat nie eens op die raad is nie.

“Dit is hoe dit moet wees, almal moet wil betrokke raak. Ons wil die perspektief van die Junior Stadsraad na iets groter verander.”

Volgens Nicola het Pagel haar geleer om op te staan vir haarself en om iets te doen en is dit net wat sy van plan is om te doen.

Die junior burgemeesterspaar het gesê dat al die lede dieselfde visie vir die dorp het en dit maklik is om saam as ’n span te werk.

“Ons het almal baie respek vir mekaar en dit gaan nie oor wat elkeen op sy eie kan doen nie, maar oor wat ons saam vir die gemeenskap kan doen.”




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za