Sollie is ’n nasionale wenner
2009-10-15
Devidean Moses
DIE redaksiespan van Gimnasium Hoërskool se Sollie-tydskrif is oorstelp, nadat hulle deur Media 24 aangewys is as die land se voorste skooltydskrif. Daar was altesame 400 inskrywings in vier afdelings. Die Sollie skooltydskrif is 30 jaar gelede geloods deur opvoeder Magriet Engelbrecht. “My droom was eintlik net om ’n forum te skep waar leerlinge self oor hul skool kan praat en lees wat ander leerlinge sê,” sê juffrou Magriet. “Ons het ’n kompetisie geloods vir die naam en die naam Sollie Justus, wat afgelei is van die leuse van ons skool, het gewen. Die Justus het êrens langs die pad verdwyn.” Die eerste Sollie was afgerol - ’n morsige besigheid wat nie geskik was vir fotoplasing nie. Vandag kan sy terugkyk en steeds sien dat haar droom voortleef. Hierdie kleurvolle tydskrif/skoolkoerant word twee keer per jaar uitgegee. Sowat 1000 eksemplare word verkoop teen R5. Sollie word deur ’n wye spektrum gekoop, en is selfs in dokters se spreekkamers te kry. Of dit nou handel oor die “ditjies” en “datjies”, akademie, sport, kultuur, VSCV, leerders en personeel se prestasies of selfs liefdessake - almal word op hoogte gehou. Soos ’n wyse man sê: spanwerk is saamwerk en so betrek die redaksie almal in die skool om ’n suksesvolle poging aan te wend. Die oë en ore van die Sollie bestaan uit ’n kernredaksie (redaktrise, subredakteur, advertensieverteenwoordiger, ontwerp- redakteur en kultuurredakteur met verskeie medewerkers. Maréli Bronkhorst, redaktrise, vertel, “Die Sollie is ’n skat wat ek in my hart koester. Dit is propvol pret, nuus en dinge eie aan Gim. Dis regtig lekker om hard daaraan te werk, want die eindproduk is ’n beloning en ’n half!” Vir Elzan Mouton (bemarker) was dit harde werk. Sy moes haar Saterdae opoffer om advertensies bymekaar te maak, maar dit was die moeite werd. “Ek het die vrugte van my harde werk gepluk. Die Sollie sal ook nie uitgegee kan word sonder advertensies nie, aangesien dit die hoofinkomstebron is om kostes te dek.” Die hardwerkende redaksiegroep kwalifiseer ook nou vir die skool se erekleure.
More
News
|