HIER waar ek nou sit is ek so naar dat ek eintlik bewe. Dit is van afgryse en absolute woede en magteloosheid.
Kan ons in die Paarl nie net ’n bietjie saamstaan en ons luiheid en gemaksug eenkant toe skuif nie, of is dit vir die mense lekker om by die posbus-afdeling by Paarl poskantoor in te gaan en op “verrassingspakkies” af te kom? Nogal heel mooi toegepak (net jammer die stank bly in die lug hang) met die strooibiljette wat die morsjorse oral daar rondstrooi. Sies man!
Ek kry die arme man wat elke oggend die gemors in daardie plek moet skoonmaak bitter jammer. Wat moet hy nie van die mense dink nie!
En ja meneer en mevrou, julle wat als net so uit die posbus op die vloer neergooi, sies man! Daar is ’n asblik, gebruik dit. Ek is baie seker julle doen dit nie by julle huise nie, hoekom dan hier?
Maar nee, dis mos baie makliker om die deur net oop te los sodat elke stuk “rubbish” maar sy ding daar kan kom doen.
Ek is verstom dat Paarliete wat tog so graag spog met die prag en praal van die Paarl hierdie tipe goed toelaat.
Ons bly hier in een van die mooiste dorpe in die land, met ’n klomp van die land se topskole en restaurante, en dit lyk my niemand waardeer dit meer nie.
Dit het ’n grap geword om in die land te bly almal doen presies wat hulle wil en kruip weg agter “menseregte”, en die ergste van als, ons laat dit toe! Is ons regtig sulke lamsakke?
En dit het niks te doen met kleur of ras of geslag nie, dit het te doen met ordentlikheid, maniere, dissipline en respek.
Of het ’n dorp dan nie ook regte nie?
P Smook