HOE gebeur dit dat Uitsig, Wellington, binne een week twee keer sonder water is? Op Sondag 11 Oktober het ons geen water gehad vanaf 11:00 in sekere dele van Uitsig nie.
Die munisipale amptenaar op die noodnommer deel ons mee ’n amptenaar het VERGEET om die dam se pomp aan te skakel. Hoe gebeur dit? Geen water tot 20:30.
Op Vrydag 16 Oktober was daar weer eens geen water vanaf 18:00 nie. Die amptenaar deel ons mee die dam is weer leeg. Wat nou? Sonder water kan ons nie was of die toilet gebruik nie.
Om 07:00 die oggend van 17 Oktober was daar nog steeds geen water nie. Ek skakel en die antwoord is: “Ons weet nie wat fout is nie, maar die amptenare is op pad.”
Groot was die blydskap toe die water om 07:30 weer aangeskakel is. Wat’s fout?
Ontevrede inwoner en belastingbetaler
May Carolissen, woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, reageer:
Die 3 Megaliter Blouvlei-reservoir, aanjaerpompstasie asook kragopwekker is verlede jaar voltooi en in werking gestel.
Die bestaande Uitsig-pompstasie is gevolglik uit werking gestel. ’n Groot area oos van Uitsig-pompstasie asook die area oos van Genl Hertzog Boulevard word deur die nuwe Blouvleireservoir van water voorsien.
Die watertoring by die Van Blerk-watertoring kon nie by die nuwe Blouvlei-stelsel gekoppel word nie aangesien die verhoogde waterdruk barspype op die netwerk veroorsaak.
Dit word beoog om in hierdie finansiële jaar (2009/10)’n drukverlagingstelsel aan die stroomafkant van die Van Blerk-watertoring te installeer sodat die aanjaerpompstelsel en watertoring ook in onbruik sal val. Die Waterwerke-afdeling is tans besig met toetse en opmetings om so ’n stelsel in plek te sit.
Probleme is op Dinsdag 13 Oktober ondervind met een van die twee aanjaerpompe by die Van Blerk-pompstasie. Die tweede pomp behoort in so ’n situasie outomaties aan te skakel. Dit het ongelukkig nie gebeur nie, met die gevolg dat die Van Blerk watertoring op Vrydagaand 16 Oktober leeggeloop het. Die foutiewe pomp is sedertdien herstel.
Die probleme met die pompe het groot ongerief veroorsaak en daar word verskoning aangebied vir die verbruikers wat sonder water gelaat was.