Leraar stal kuns uit
2009-10-22
Johan Nel
’n UITSTALLING van kunswerke deur ds Fanie Marais, predikant van die NG-moedergemeente op Wellington, is verlede week in die Breytenbach-sentrum deur sy dogter, die TV-aktrise Rolanda Marais, geopen. Dit is sy eerste solo-uitstalling. Volgens Trevor Cleevely, bekende plaaslike kunskenner, toon die werk van Marais wat by die uitstalling te sien is, merkwaardige ontwikkeling sedert hy vir die eerste keer aan groep-uitstallings op die dorp begin deelneem het. Rolanda Marais het in haar openingsrede gesę dat hierdie eerste solo-uitstalling van haar pa “duidelik wys dat hy sy Godgegewe talent om te skilder vreesloos en eerlik gebruik. Sy sin vir humor en sy deernis met sy medemens straal ook duidelik uit die skilderye op die uitstalling”. Hy noem sy uitstalling van collage-figure Koppe, want hy sien die mens se kop as simbool van die aarde waarop ons woon, koppe waarop die tand van die tyd letsels van swaarkry en pyn en lyding gelaat het. Marais het tydens die opening aangekondig dat hy die inkomste uit die verkoop van die skilderye op die uitstalling aan die Omgeefonds van die NG Moedergemeente op Wellington en aan die nagskuiling op die dorp gaan skenk.
More
News
|