Rioolwerke se opgradering vorder fluks
2009-10-22
DIE uitbreiding van die Paarl Rioolwerke, wat deel is van ’n 20 jaar plan, vorder fluks. Dié projek sluit die opgradering van die bestaande rioolwerke asook die installering van grootmaat-rioolpypleidings in die suide van Drakenstein in. Kostes vir die hele projek raak-raak aan R100 miljoen. Die finale fase wat in die meesterplan gedek word, is die oprigting van ’n nuwe suidelike werke. Hierdie werke sal alle ontwikkeling suid van die N1, asook sekere gedeeltes net noord van die N1, kan bedien. Dié uitvalwerke sal egter eers oor 15 jaar aan die suide van Paarl gebou word. “Dit is nog nie ’n uitgemaakte saak waar die terrein gaan wees nie,” sê Leon Coetzee, hoof van die Ingenieurs-afdeling van die munisipaliteit. Die totale Paarl Rioolwerkeplan is in 2005 deur die Drakenstein Munisipaliteit goedgekeur en sal in die volgende 20 jaar implementeer word. Een van die fases wat in 2007 voltooi is, was om die oorbelading van die Wellington werke te verlig. “Paarl-werke het die kapasiteit gehad. Daar is toe ’n 400mm diameter pyplyn oor 4 km vanaf Newton pompstasie na die Paarl werke gelê om die oorbelading van Wellington-werke weg te neem,” sê hy. Paarl-werke se hanteringsproses word tans opgradeer om aan spesiale standaard-uitvloeiselvlakke te voldoen weens die sensitiwiteit van die Bergrivier. Ná die opgradering sal alle prosesse in die werke ’n kapasiteit van 135megaliter per dag hê. Die volgende fase behels ’n nuwe module by die Wellington-werke wat, afhangend van die tempo waarteen rioolwatervloei verhoog, binne die volgende vyf tot sewe jaar gebou behoort te word. Die pyplyn, wat in 2007 voltooi is, sal dan in die teenoorgestelde rigting gebruik word sodat oormaatvloei vanaf Paarl-werke na die nuwe module by die Wellington-werke vervoer kan word. Tans is Drakenstein besig met die opgradering van die Paarl-werke asook die opgradering van die hoofrioolpyp na die Paarl werke. Negentig persent van die opgradering van bestaande kanale en vloeistrukture is reeds voltooi. Dit sluit die skuif van belugters en ander meganiese toerusting na die tydelike prosesdam in. Dit het die munisipaliteit R3,2 miljoen gekos. Die siviele bouwerkfase, waarvan 85% voltooi is, kos R38 miljoen en die meganiese werke, wat R13,5 miljoen kos, is reeds 20% voltooi. Die kontrakteur is Inenzo. Die siviele en meganiese werke in fase 2 sal ongeveer R50 miljoen kos. Die raadgewende ingenieurs op die huidige werk is Aurecon in samewerking met Lyners raadgewende ingenieurs. “Die grootste knelpunt om by sperdatums te hou en die projek betyds te voltooi, is die beskikbaarheid van fondse. Drakenstein Munisipaliteit befonds die meeste van hierdie werk en ’n gedeelte is ook vanaf Nasionale Tesourie verkry as deel van Munisipale Infrastruktuur befondsing. “Drakenstein Munisipaliteit se kapitaalbegroting is onder baie druk met sulke groot projekte. Dié projek word dus met versigtige beplanning aangepak sodat werk gedoen kan word in terme van beskikbare befondsing. Uitgawes en vordering op hierdie projek word deeglik bestuur en gemonitor deur die Direktoraat Infrastruktuur en Beplanning se Siviele Ingenieursdienste Departement, die Raadgewende Ingenieurs asook die Provinsiale MIG program,” sê Coetzee.
More
News
|