Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gimnasium kook op netbalbaan

Gimnasium kook op netbalbaan
 
2009-10-22


DIE eerste netbalspan van Paarl Gimnasium het waarlik ’n droomseisoen agter die rug.
Die seisoen het afgeskop met ’n uiters suksesvolle sporttoer na die Hoërskool Waterkloof, wat dié span saam met die hokkie-, rugby- en tennisspanne meegemaak het.

Tydens die Boland Openingstoernooi in die Paarl, asook tydens die jaarlikse Bellville-sportdag, het die Gimmies skoonskip gemaak.

Toe die Boland Elite Uitdaagkompetisie begin het, was die span reeds oorgehaal om dié kompetisie ook te wen.

Ná drie toernooie, wat oor die tweede kwartaal gestrek het, was die Gimmies onoorwonne, en is hulle as die Boland kampioenspan gekroon.

Intussen het die Boland netbalproewe begin en, na afloop van ’n reeks proewe, is Ilze Jones (kaptein), Anuschka Prinsloo (onderkaptein) en Carmen Swanepoel in die Boland o.18 A-span opgeneem, terwyl Carla Jordaan die Wes-Kaap o.17 B-span gehaal het. Juline Rossouw (kaptein) het die Wes-Kaap o.17 A-span gehaal.

Dié spelers het in die Junie-vakansie aan nasionale toernooie deelgeneem, waartydens ’n rekordgetal Gimmies in SA-spanne opgeneem is.

Hulle is Carmen Swanepoel, Ilze Jones (albei SA-skole o.18) en Juline Rossouw (SA o.17).

Juline is ook as kaptein van die SA o.17 span gekies en is tydens ’n toernooi in Swaziland as die speler van die toernooi aangewys.

Terug ná die vakansie moes die Gimspan, as Bolandkampioene, deelneem aan die Wes-Kaaptoernooi.

Tydens dié toernooi het hulle afgereken met die sterk span van Durbanville, asook Outeniqua, om as die Wes-Kaap wenners gekroon te word.

Dit het beteken dat Gimnasium se netbalspan vir die eerste keer aan die nasionale kompetisie in Boksburg kon gaan deelneem - maar eers was interskole teen Hoër Meisieskool aan die beurt.

Dit was beslis ’n hoogtepunt. Met ’n stampvol CR-sentrum het die Gimmies vir HMS met 30 doele teenoor 18 geklop. Dit was die sesde keer in ’n ry dat Gim se eerste netbalspan die interskolestryd wen.

Gedurende interskole-naweek het Gim se netbalspan in Boksburg deelgeneem aan die nasionale toernooi. Hier toon die Gim-span ware karakter, deur 18-21 vas te val teen die toernooiwenners, Affies (Pretoria), wat van die Gimmies die vierde beste o.18-span in die land maak.

Gim se eerste netbalspan word al die afgelope 11 jaar afgerig deur Leana Lourens.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za