KLAPMUTS se raadslid, JC Anthony, ry met sy eie motor rond. Dié motor, wat al weer die besprekingspunt in Klapmuts is, is ’n BMW 3-reeks, wat hy in April 2002 by Novel Ford in die Paarl gekoop het.
“Ek is nou besig met regstappe teen die mense wat my naam skade aandoen. Die beriggewing en gerugte wat versprei word, is onwaar. Ek het self die deposito en paaiemente betaal en die motor is op my naam,” vertel Anthony.
Gerugte doen die ronde dat ’n boukontrakteur wat munisipale kontrakte kry, dié motor vir Anthony gekoop het. Anthony is die Stellenbosse burgemeesterskomiteelid vir beplanning.
“Dit is nie die eerste keer dat die gerugte versprei word nie, maar dit is alles onwaar,” sê hy.