DIE forensiese ondersoek rakende die oorsaak van die brand by die Paarl Print aanleg op 17 April in die Paarl vanjaar, het bevind dat die brand waarskynlik ontstaan het as gevolg van ’n diepbraai-toestel in die kafeteria van ’n private sub-kontrakteur.
Dertien mense (insluitende die kafeteria-werker) het hulle lewens in die brand verloor en verskeie is ernstig beseer.
Dit wil voorkom asof die olie in die diepbraai-toestel aan die brand geslaan het binne ’n half-uur vandat dit die oggend aangeskakel is in die kafeteria.
Die kafee is geleë op ’n middelvlak bokant die vloer van die fabriek, naby die dak.
Die vlamme het vinnig versprei toe die polistireen-isoleringsmateriaal, wat in groot dele van die aanleg se dak geďnstalleer was, teen die binnekant van die dak ontvlam het.
Stephen van der Walt, die uitvoerende hoof van Paarl Media sę: “Sedert 17 April het onafhanklike forensiese brandkenners breedvoerige ondersoeke gedoen om die oorsaak, en veral die vinnige verspreiding van die brand, te bepaal.
“Die brandkenners het die area waar die brand ontstaan het, gerekonstrueer en simulasies gedoen om die oorsaak vas te stel.
“Die hitte wat deur die kookolie vrygestel is, het die isoleringsmateriaal in die dak verhit en aan die brand gesteek. Die brandende isoleringsmateriaal het geweldige hoeveelhede rook vrygestel wat vinnig deur die gebou versprei het en tot uiters swak sig gelei het.
“Vorige berigte ten opsigte van moontlike papierstof-ontploffings is ten volle ondersoek en daar is bevind dat dit nie die geval was nie. Daar is ook bevestig dat die brand en die vinnige verspreiding nie verband hou met enige materiaal of proses wat deur Paarl Print of in die druk-industrie as geheel gebruik word nie.
“Die Paarl Media Groep het die isoleringsmateriaal van al elf aanlegte binne die groep getoets en waar soortgelyke isoleringsmateriaal gevind is, word dit dringend vervang met verbeterde brand-weerstandige isoleringsmateriaal.”
“Ons dink steeds aan die families van die oorledenes en die beseerdes. Ons vertrou dat die uitslag van die ondersoek sal help om berusting te bring aan almal wat geraak is deur die tragedie.”
* The forensic report on the Paarl Print fire indicates that the fire started when oil in a chip frier in the privately run staff cafeteria caught alight and spread to the ceiling insulation sheets of the factory.