Poskamer ’n 'skande'
2009-10-22
Lise Beyers
OM pos vanuit ’n posbus te haal is nie vir sissies nie - veral as hierdie taak by die posbuskamer van die Paarl Poskantoor gedoen word. Verskeie kliënte van hierdie instansie kla dat wanneer hulle hierdie eenvoudige taak moet verrig, word hulle begroet deur menslike afval voor hul posbusse. Oënskynlik word hierdie posbuskamer in Lady Grey- straat nou deur straatslapers gebruik as ’n toilet en kuierplek. Nadat verskeie insidente by hierdie posbuskamer plaasgevind het, insluitend aanvalle op mense, het die owerhede vroeër vanjaar uiteindelik wakker geskrik en ’n sekuriteitshek aangebring. Alle posbushuurders is ’n sleutel hiervoor gegee, maar nou het die slot van die hek gebreek en elke jan-rap-en-sy-maat het nou toegang daartoe. Bekommernis oor veiligheid by die posbuskamer is uitgespreek reeds kort nadat die poskantoor verhuis het vanaf die oorspronklike hoofposkantoor op die hoek van Hoof- en Lady Greystraat. Huurders het dadelik onveilig gevoel, veral na ure as die omgewing stil was. Die kamer is geleë in die steeg langs die poskantoor tussen Lady Grey- en New-straat. In Januarie vanjaar is ’n swanger vrou helder oordag hier oorrompel terwyl sy pos uitgehaal het. ’n Woordvoerder van die poskantoor het vandeesweek gesê dat die slot vervang sal word, en dat die hek voortaan om 17:00 gesluit sal word. ’n Sleutel sal gegee word aan die sekuriteitswag van die firma wat die area patrolleer, indien mense ná ure pos wil uithaal.
More
News
|