Bloed kook oor padboete
2009-10-22
Lise Beyers
DIT is nou een ding om ’n spoedboete deur die pos te ontvang, maar as die voertuig nie eens aan jou behoort nie, kook jou bloed behoorlik. En Warren Groenewaldt se bloed het nou kookpunt bereik nadat hy ’n boete ontvang het vir ’n verkeersoortreding wat volgens die verkeersowerhede met sy motor gepleeg is op ’n plek wat hy nog nooit besoek het nie. Op die foto wat saam met die boete by Groenewaldt aangekom het, is die skuldige motor ’n Renault Megane, en nie die Mazda 323 wat in sy naam geregistreer is nie. Die nommerplaat stem wel ooreen met dié van sy Mazda, maar dit is duidelik nie sy motor nie. Boonop het die oortreding in Johannesburg plaasgevind. “Wat, ek was nog nooit eers in daardie stad nie. En wat van my werk. Ek kan nie sommer net so Johannesburg toe ry nie. “Die oortreding het volgens die verkeersowerhede op 12 September vanjaar plaasgevind en ek was by my werksplek in Huguenot. “En boonop het my Mazda reeds in Junie onklaar geraak, en staan met pap wiele en al in Barkerstraat, Paarl-Oos.” Groenewaldt probeer al sedert hy die kaartjie ontvang het om in verbinding te tree met die verkeersowerhede in Johannesburg, maar dit is onmoontlik om deur te kom na die telefoonnommer wat op die boete aangedui word. Ongelukkig kan die plaaslike verkeersowerhede niks doen oor hierdie voorval nie, want hulle is nie gekoppel met nasionale departemente nie. Die enigste raad is dat Groenewaldt nou moet wag dat hy gedagvaar word. Dan moet hy met die bewyse reg staan wat toon dat die voertuig wat beboet is, nie syne is nie. “Maar wat van die motor wat in Johannesburg rondry met my nommerplaat op? Hoeveel oortredings gaan hy nog begaan?” Pogings deur Paarl Post om die verkeersowerhede van Johannesburg te kontak was onsuksesvol. * A Paarlite is stuck with a speeding fine for a vehicle in Johannesburg with the same numberplate.
More
News
|