Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Goed, beter, Bester!

Goed, beter, Bester!
 
2009-10-22

Jaco van Wyk

HERLEEF gou ’n paar Curriebeker-wedstryde gelede, op die Boland-stadion op Wellington, waar die Boland Kavaliers weereens hul hande vol het teen die manne van Griekwas.

Dit is vroeg in die tweede helfte en, met die telling 9-21 in die guns van die besoekers, is die tuisspan in die knyp. ’n Stukkie individuele briljantheid is al wat die Wynboere nou sal help om ’n haas uit die hoed te pluk.

’n Hanteerfout deur Griekwas, in hul eie halfgebied, bring die Kavaliers uiteindelik binne trefafstand.

Aan die gatkant van die skrum, lig die Kavaliers se groentjie-agtsteman, Alwyn Bester, sy kop omhoog om die situasie deeglik op te som.

Van links na regs dwaal sy oë in die rigting van die doellyn. “Wat is my opsies?” dink hy seker.

Die bal word by die skrum ingevoer en die Kavaliers se voorry staan sterk.

Vinnig word die bal na regs gestuur, terwyl Bester in die teenoorgestelde rigting van die speelveld beweeg. Die oud-leerder van die Hoër Landbouskool Boland het duidelik ’n fase of twee vooruit beplan.

So asof Bester homself al in ’n soortgelyke situasie bevind het, vind die bal, een fase later, sy pad terug in die rigting van die lenige werkesel.

Bester, wat al heel middag Griekwas se verdediging op die proef gestel het met sy vreeslose stormlope, kry weer sy hande op die bal vir nóg so geleentheid.

Vir Bester hoef jy nie twee keer te vra om die opponente se verdediging fisies aan te durf nie. Kop omlaag en reguit vorentoe - dít is duidelik die enigste pad wat Bester ken.

Een... twee... drie mislukte verdedigers word agtergelaat om in Bester se stof te verstik.

Dis ’n drie! Danksy ’n briljante poging deur Bester, is die Kavaliers terug in die wedstryd.

Wat die eindresultaat van dié wedstryd aanbetref, was dit ongelukkig geen sprokiesverhaal-einde vir die Kavaliers nie. Die manne in swart het uiteindelik met 23-31 vasgeval.

Met jong angels soos Bester in hul geledere, lyk die toekoms vir die Wynboere belowend.

Een of twee mossies maak nou wel nie ’n somer nie, maar ’n man soos Bester verleen ten minste ’n bietjie kleur aan ’n ietwat vaal Boland-prentjie. Dié span het nie vanjaar een van hul beste seisoene beleef nie.

In ’n vroeëre wedstryd het die Kavaliers egter tagtig punte teen die einste Griekwas afgestaan - ’n duidelike aanduiding van verbetering in die Boland-kamp.

Dit is gewoontlik vanselfsprekend dat ’n talentvolle speler soos Bester, op skoolvlak met gemak in die eerste rugbyspan sou inwals. In Bester se geval was dit egter nie heeltemal die geval nie.

Hoewel min skole hul seuns so hard kweek soos die Hoër Landbouskool Boland, moes Bester spring tussen die eerste en tweede spanne, en was sy waarde werklik eers ontdek op klubvlak, waar hy vir Wellington Rugbyklub uitgeblink het.

“Junior (soos sy vriende hom noem) speel ’n lekker game ja, maar het hy jou vertel dat dit Wellington Rugbyklub is wat hom so hard gemaak het?” skerts ’n bestuurslid van die Wellingtonse klub, Attie Krayanauw.

Bester stry ook nie met Krayanauw nie, en sê “in die Boland-liga is die rugby dalk nie so vinnig nie, maar dit is beslis kliphard”.

Volgens die 22-jarige Paarliet was hy nog altyd baie lief vir rugby, “maar op skool was ek seker nog te maer en nog nie heeltemal ontwikkel nie.

“Ek was vir ’n tyd by Maties Rugbyklub, maar ek moet sê, ek glo nie ek sou gewees het waar ek vandag is, as ek nie vir Wellington kom speel het nie.”

En hoe voel Bester oor sy skielike opgang in provinsiale rugby?

“Dit is altyd ’n droom om eendag Curriebekerrugby te speel, maar mens verwag dit nie altyd nie.

“Aan die begin van die seisoen het ek vir myself ’n doelwit gestel, om Boland se oefengroep te haal, en dan ten minste een Vodacombeker-wedstryd te speel. Toe maak ek sommer ook die Curriebekergroep,” sê Bester, wat sedertdien homself gevestig het as die Kavaliers se nommer-een agtsteman.

Met die Kavaliers se gesukkel in vanjaar se Curriebeker-reeks, sê Bester “dit is maar moeilik as ’n unie nie baie geld het nie. Ons het vanjaar gesukkel, maar ek is seker dinge sal volgende seisoen baie beter gaan.”

* Weens ’n besering is Bester nie vir eerskomende Saterdag se wedstryd teen die Pumas oorweeg nie.

Hy behoort egter reg te wees vir die tweede wedstryd, in Witbank. Sien bladsy 23 vir verdere inligting.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za