Sewe seer jare afgesluit
2005-09-01
VIR sewe jaar is ’n dogtertjie van Paarl-Oos bedags op pad skool toe en terug deur ’n man voorgekeer en gemolesteer.
Was dit nie dat die meisie op die ouderdom van 12 van buikpyne gekla het, en die ouers haar met vermoedelik akute blindederm-ontsteking hospitaal toe gehaas het nie, het die waarheid dalk nooit uitgekom het nie.
Die kind is vandat sy vyf jaar oud was, sonder dat die ouers dit besef het, deur ’n man in hulle straat verkrag en onsedelik aangerand.
Hy het haar met lekkers gelok, ’n geselsie aangeknoop, en dan in die bosse buite die skool aangerand.
Hierdie week is Anthony Gilfillan (34) van Desmorestraat 21 effektief tot 12 jaar agter tralies gevonnis vir sy dade.
Die saak was ná ’n jaar se vrugtelose ondersoek afgesluit, sê insp Lydia du Plessis en sers Steven Reid.
“Ons het die ouers ondervra en hulle het nooit iets opgemerk nie. Die bure, die skool personeel, haar maatjies - niemand het iets geweet nie. En die meisietjie wou niks, niks sê nie.
“Ons het net die mediese getuienis gehad van die dokters wat haar blindederm in ’n noodoperasie sou verwyder en toe vasgestel het dat haar vrouedele erg beskadig is.”
’n Jaar ná die operasie, nadat die gesin uit die Paarl getrek het en ná maande van rekonstruktiewe mediese ingrypings en berading, het die meisie begin praat.
“Toe kon ons die man vastrek,” sê die polisievrou tevrede.
“Anders sou ander dalk ook seergekry het en die verskriklike trauma moes deurgaan.”
Gilfillan se ouers het tydens die hofsaak beweer dat hul seun geestelik gestremd is, maar met sielkundige waarneming is die bewering ter syde gestel en is hy verantwoordelik gehou vir sy dade.
Hy is in die Paarl streekhof skuldig bevind aan verkragting en onsedelike aanranding en in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis.
* A Paarl East man has been found guilty of raping a primary school girl for seven years. The girl was seriously injured.
More
News
|