Vasberade om te presteer
2009-10-29
Devidean Moses
’n VYFTIENJARIGE leerder van die Wellington Jeugsorg- en Onderwyssentrum, Ryan Engelbrecht, is ’n baie presiese en deeglike persoon in alles wat hy aanpak - veral sport, waarin hy beslis sy merk begin maak. Dié graad nege leerder is iemand wat daarin geslaag het om sy lewe om te draai en nou goed vaar in die klas sowel as op die sportveld. Vanjaar is hy reeds bekroon as ’n Boland en Wes-Kaap (LSEN) kampioen in spiesgooi en by die nasionale kampioenskappe het hy ook ’n goue medalje verwerf. Hy vaar ook goed in landlope en het tydens die Wes-Kaap LSEN landlope in George ’n brons medalje verower en tot by die nasionale kampioenskappe in Nylstroom gevorder. Boonop is hierdie jong knaap ook gekies vir die Boland en Wes-Kaap LSEN krieketspan. Sy droom is om eendag die nasionale span te haal om vir die Proteas krieket te kan speel. Ten spyte daarvan dat Ryan onder moeilike omstandighede in Moorreesburg grootgeword het, maak hy sy ma en suster trots met al sy prestasies. Hy is lief vir padwedlope en het onlangs silwer medaljes by die Safari-halfmarathon in Wellington en die “Miles of Smiles” halfmarathon in Robertson verower. “Ek staan vir geen uitdaging terug nie,” sê die opgewonde Ryan wat sedert 2007 by die Jeugsentrum skool gaan. Coenraad Louw, Boland-voorsitter van Elsen skolekrieket en ook krieketkoördineerder by die Jeugsorg-sentrum, sê dat Ryan ’n begeesterde, toegewyde persoon is met die regte ingesteldheid wat altyd betyds is vir sy oefeninge en dan ekstra ure insit. Coenraad glo dat “A child in sport is a child out of court,” en noem dat Ryan ook gekeur is om gespesialiseerde afrigting by die Boland Sportakademie te ontvang. Hierdie toegewyde leerder wil graag sy skoolloopbaan in 2010 by ’n hoofstroom skool voortsit, om sodoende sy sporttalente uit te leef. Ryan se maats beskou hom as ’n rolmodel. “Ten spyte daarvan dat ek in die verlede verkeerde keuses gemaak het as gevolg van groepsdruk, glo ek dat elkeen ’n tweede kans verdien om haar/homself te bewys,” sê Ryan. Sy opvoeder, Eleanor Saville, is baie trots op die lewenslustige leerder omdat hy alles met passie doen. “Hy aspireer om bo sy omstandighede uit te styg.” Hy beoog om eendag as ’n voltydse administratiewe beampte weer terug te ploeg in die gemeenskap, soos wat sy onderwysers doen. “Ons onderwysers, soos mnr Jonathan Lakey, is mentors wat ons aanspoor om positiewe keuses te maak.” As daar wel ’n hoofstroom-skool is wat vir Ryan bystand wil lewer, kan 021-873-1068/9 geskakel word.
More
News
|