Drie Paarlse skole skitter
2009-10-29
Lise Beyers
PAARLSE skole het vanjaar uitgeblink in ’n opname wat gedoen is om die top 100 skole dwarsoor die land te bepaal.
’n Sondagkoerant het ondersoek ingestel met die hulp van die Universiteit van die Witwatersrand om vas te stel watter staatskole die beste in die land is. Drie plaaslike enkelgeslag-skole, Paarl Hoër Meisieskool, Hoër Jongenskool Paarl en Hoërskool La Rochelle, is onder die top 100 skole landwyd geplaas. HMS is agtste geplaas onder die topskole in die Wes-Kaap, en Boishaai was kort op hul hakke in die negende plek. Die uitslae is gebaseer op die uitslae van die matrieks van 2008, die eerstes wat eksamens volgens die nuwe uitkomsgebaseerde kurrikulum wat 12 jaar gelede in werking getree het, afgelê het. Hierdie uitslae is hoofsaaklik gebaseer op skole se akademiese prestasies. Die matriekslaagsyfer is in ag geneem, die persentasie leerders met universiteitstoelating, die gemiddelde getal A-simbole en die persentasie leerders wat bo 50% vir wiskunde en wetenskap gekry het. Tydens die opname het dit ook aan die lig gekom dat leerders van enkelgeslagskole beter vaar as dié van gemengde skole, dat meisies in die geheel beter vaar as seuns en dat Afrikaanse skole akademies uiters goed vaar. Reinette Colyn, skoolhoof van HMS, het die sukses van Hoër Meisieskool toegeskryf aan die skool se gesamentlike visie van toegewyde, entoesiastiese en hardwerkende leerders, wat gretig is om hul kennis te verbreed. “Verder beskik HMS Paarl oor ’n span hoogs-opgeleide, gemotiveerde en entoesiastiese opvoeders wat 120% gee vir die skool – waar die belange van leerders ter sprake is, is niks te veel moeite nie.” * Three Paarl schools have been placed amongst the top 100 schools in South Africa following an investigation by Sunday Times and Wits University.
More
News
|