DIE kreatiewe wynspan van Windmeul Kelder loods op Saterdag 7 November ’n maandelikse plaasmark in hul wynsentrum aan die noordelike hange van Paarlberg.
Die opening van die Windmeul Plaasmark is op dieselfde dag as die 2009 Windmeul Waterblommetjiefees en die potjiekoskompetisie met waterblommetjies as die tema. Vars produkte soos vleis, konfyte, olywe, olyfolie, kaas, groente, vars gebakte brood, heuning en eiers is direk vanaf die verskaffers te koop, terwyl die Windmeul wynreeks beskikbaar is in die proelokaal.
Altesaam 25 spanne neem deel aan die potjiekoskompetisie en die beoordeling word deur ’n kundige paneel gedoen, met spesiale pryse vir die beste waterblommetjiepotjies. Musiek, vliegtuigmeelbomme, ’n wyntent en kontantkroeg skep die atmosfeer.
Die windmeul waarna die kelder vernoem is, is tussen 1884 en 1890 opgerig. Die windmeul was destyds vir jare die kern van die ekonomie in die Paarl gebied.
Vir meer inligting oor die mark, skakel 021-869-8100.