Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot ontwikkeling vir Wellington

Groot ontwikkeling vir Wellington
 
2009-10-29


DIE eerste sooie van die eerste fase van die R90 miljioen Welgeleë Plein-ontwikkeling is onlangs op Wellington gespit aan die bopunt van Champagnestraat.

Dit sal deur Checkers Shoprite Eiendomme ontwikkel, opgerig en bestuur word. Die totale verhuurbare oppervlakte van die winkelkompleks beloop 6 200 m2. Die beoogde openingsdatum is 28 Oktober 2010.

Die ontwerp van die sentrum is gegrond op ’n waenhuis-tema wat die geskiedkundige verlede van die dorp uitbeeld, sê Leon Myburgh, ontwikkelingsbestuurder van Shoprite Checkers Eiendomme.

“Die sentrum is in kleiner kompartemente opgedeel om plaasskure te verteenwoordig. Elke kompartement is met sy eie dak bedek om ’n monolitiese struktuur wat die landskap sou oorheers, te vermy. Om hierdie tema te versterk, is die winkelkompleks ook versink om die skaal van die ontwikkeling in lyn met die omliggende woonbuurt te bring.

“Die ontwerp is gedoen deur Stauch Vorster Argitekte,” sê hy.

Dié sentrum, wat deur Checkers Shoprite Eiendomme bestuur sal word, sal bestaan uit 29 winkels waarvan Checkers die ankerhuurder sal wees. Daar sal 350 parkeerplekke wees waarvan 127 onderdak is.

Winkels sluit restaurante, doktersspreekkamers, ’n wassery, videowinkel, modewinkels en tipiese geriefsentrumhuurders in.

Nog geen toekennings is nog gemaak nie. Belangstellende huurders is welkom om Sharon Lambrechts (021-983-5487) of Carole Speedie (021-980-4571) te kontak.

Liaquet Ahmed, bekende Wellingtonse sakeman en direkteur van Wellington Paint & Hardware, het die stuk grond ’n ruk gelede aan Checkers Shoprite Eiendomme verkoop.

Die ander vier fases wat deur Ahmed self ontwikkel word, sluit ’n vulstasie, deurry-wegneemete franchise, groepsbehuising asook losstaande woonhuise in.

“Sodra die sentrum voltooi is, gaan ons begin met die ontwikkeling van die vulstasie, die wegneemete-plek en die groepsbehuisingsfase. Onderhandelings is nog aan die gang met die eerste twee.

“Die groepsbehuising van 12 eenhede sal aan die noord-oostelike kant van die sentrum opgerig word. Die huise sal ongeveer 90 vk meter elk beslaan en is vir die verhuringsmark bestem.

“Die res van die ontwikkeling bestaan uit 40 losstaande erwe wat aan Bergsig grens,” sê hy.




More News
  • Hotel to convert to retirement centre
  • Nuwe daghospitaal vir Noorder-Paarl
  • Progress in Klapmuts
  • Green office block planned for Paarl Mall
  • Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
  • Woonstelmark wil-wil wakker word
  • Objections to Waterfront development
  • Farm up for auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za