Gospelsangers sterf saam
2005-09-01
VYF gesinne van Paarl-Oos is vaderloos gelaat nadat die gospelsanggroep Alfa Messengers Sondagaand in ‘n grusame padongeluk betrokke was.
Die botsing tussen Clanwilliam en Citrusdal, en die sterfte van vyf van die 10 lede van die bekende mannekoor, het die gemeenskap in rou gedompel.
Die sanggroep was om 19:10 in twee motors op pad terug van ‘n kerkbyeenkoms toe hulle in ‘n kop-aan-kop botsing betrokke was.
Die Toyota Corolla motor het met die slag teen ‘n aankomende bakkie in vlamme uitgebars. Al die insittendes het verkool.
Die polisie ondersoek die bewering dat die bestuurder van die ongeluksmotor ‘n vragmotor teen aankomende verkeer verbygesteek het.
“Ons glo eerder my pa het ‘n hartaanval gekry. Hy was ‘n hartlyer en hy het die middag voor die ongeluk nie goed gevoel nie,” het Margaret Warries gesê.
Haar man Geoffrey, ook ‘n lid van die sanggroep, kon die oorledenes eien as koorleier John Mouton, Dawid November, Sammy Mbabane, David October en pastoor Willie Meyers.
Geoffrey vertel: “Die ongeluk het ‘n kilometer verby Markuskraal, duskant Citrusdal, gebeur. Ons was reeds vooruit, maar het teruggedraai toe ek niemand op hul selfone kon bereik nie.
“Dit was verskriklik. Ek het die motor dadelik herken daar waar dit gebrand het. Ons het hulpeloos daar gestaan en kon niks doen nie.
“Ek het oom Dawid se skoene herken waar dit langs die pad gelê het,” het John Warries (16), die jongste koorlid, hartseer gesê.
Sy oupa het hom twee jaar gelede in die koor leer sing, sê sy ouma Anna Mouton, trots.
Gesinslede van die oorledenes het hul geliefdes later in die Vredendal lykshuis geëien.
Dinsdagmiddag het die Mouton-familie, uit die Paarl , van John se geboortedorp Wupperthal en Klawer, ‘n kranslegging en gedenkdiens by die ongelukstoneel gehou.
‘n Gesamentlike roudiens vir die gestorwe koorlede word vanaand om 19:30 by die Zionskerk in Klein Drakensteinweg gehou.
Saterdag word die tuisdiens vir Mouton om 10:30 by Kappertjiestraat 1B, Lantana, en die roudiens om 11:30 by die Immanuelkerk, Charleston Hill gehou.
Hy laat sy vrou Anna, vyf kinders en vier kleinkinders agter.
Die tuisdiens vir Mbabane is Saterdag om 09:00 by Paarlita Park 26, Koedoestraat en die roudiens om 10:00 in die AGS Kerk in Beukesstraat.
Hy word oorleef deur sy vrou Elizabeth, ses kinders en agt kleinkinders.
Pastoor Willie Meyer van Lantanastraat 1 word volgende Saterdag ter ruste gelê uit die Pinkster Protestante Kerk, Chicago.
Pastoor Meyer was die sekretaris van Verenigde Kerke Gemeenskapsprojekte. Hy laat sy vrou Maggie, drie dogters en twee seuns agter.
Die tuisdiens vir Dawid November is Saterdag om 10:00 te Begoniastraat 31, Groenheuwel en die roudiens om 11:00 in die Bethelkerk, Evanstraat. Hy laat drie seuns, ‘n dogter en vier kleinkinders agter.
David October se begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Hy word deur twee kinders oorleef.
Die Alfa Messengers is in 1962 deur John Mouton gestig en was bekend vir hul sang tot by gemeentes aan die Weskus.
Sê Geoffrey, “Die stigterslid is nie meer daar nie. Ons as die jonger geslag moet nou die goeie werk voortsit wat deur hom begin is.”
Drie van die insittendes van die bakkie wat ook in die botsing was, is op slag dood. Nog sewe beseerdes is in die Clanwilliam-hospitaal opgeneem, vyf in 'n ernstige toestand.
* Five members of a Paarl East gospel choir died in a gruesome collision.
More
News
|