Koekon-grafte die antwoord vir oorvol begraafplase?
2009-10-29
Sieb Sieberhagen
DIE skrif is aan die muur vir die helfte van Drakenstein Munisipaliteit se begraafplase. Die tekort aan plek neem sulke ernstige afmetings aan dat daar nou dringend na alternatiewe gesoek moet word. Vyf van die tien begraafplase is stampvol. Onder hulle is een van die grotes, Parys, 98% vol en sal vroeg volgende jaar nie meer plek hê nie. Vanaf Maart 2010 sal daar krisisbestuur by dié begraafplaas toegepas moet word. Die hergebruik van ou grafte is een van die alternatiewe waarna daar nou gekyk word, maar dit sal eers kan gebeur indien die gemeenskap daarvoor te vinde sal wees. Die raad sal nou dringend ’n plan van aksie moet voorstel, en dit is onlangs reeds vir ’n tweede keer deur die Burgemeesterskomitee bespreek. André van der Berg, bestuurder van die munisipale begraafplase, het verlede week aan die Burgemeesterskomitee verduidelik dat die probleem ernstig is. “Ons berekeninge dui aan dat daar tot en met 2015 ’n behoefte van 8350 grafte is en dat daar in die Paarl ’n tekort van 4600 is. Ons moet ons beplanning tot en met 2025 doen, wat beteken dat ons onmiddellik moet optree. “In Drakenstein vind daar gemiddeld 130 begrafnisse per maand plaas. Behalwe die spasietekort is daar naweke ook groot logistieke probleme by die Parys begraafplaas om die begrafnisse te akkommodeer. “In die verlede kon ons nog aan families voorkeure gee oor waar geliefdes begrawe kon word, maar nou kan ons dit nie meer doen nie. Die plek is net te min.Voorkeure word nou slegs aan aanhangers van die Moslem en Joodse geloof gegee. “Dit is nie altyd maklik om nuwe grond vir begraafplase te ontwikkel nie, want vanaf die beplannings- tot die konstruksiefase neem tot drie en ’n half jaar. “Een van die alternatiewe waarna gekyk word, is om ongeïdentifiseerde grafte wat ten minste 20 tot 60 jaar oud is, weer te gebruik.” Volgens Van den Berg word die “koekonmetode” baie effektief in Australië gebruik. “Dit behels dat betonrame bo-op die huidige ou grafte opgerig word, waarin daar dan selfs tot drie mense in een graf begrawe kan word. “Al die betonkoekonne word bedek met betondeksels en dan met gras. Dit is baie netjies en veral in ons winters sal dit baie effektief werk omdat die grond tussen grafte nie sal meegee nie. “Die grafte kan maklik oopgemaak word sodra ’n graf benodig word. Waar ons nou 48 uur kennis moet kry om ’n graf voor te berei, gaan dit nou slegs ’n halwe dag neem. “En natuurlik word baie minder plek opgeneem. In ’n area waar ons nou byvoorbeeld honderd grafte sou hê, kan ons met dié metode 130 grafte hê,” sê hy. By die Parys begraafplaas is twee stukke grond waar baie ou ongeïdentifiseerde grafte is en waar koekon-tipe grafte effektief sal werk. Met die metode kan meer as 10 000 grafte op dié twee stukke grond gevestig word. Inwoners van Mbekweni het reeds heftig beswaar gemaak teen die voorstel. * The Drakenstein Municipality is considering the recycling of graves due to a shortage of cemetery space.
More
News
|