Splinternuwe musiekblyspel
2009-10-29
Johan Nel
’n SPLINTERNUWE musiekblyspel, Krismis, die musical, gaan binnekort in die Breytenbach-sentrum op Wellington aangebied word. Bekendes soos Nataniël, Riana Scheepers, Niël Rademan en Christo Davids (Errol in 7de Laan) gaan saam met die National Arts Council, plaaslike welsynsorganisasies, gemeenskapsprojekte en kinders van skole in en om Wellington saamspan om hierdie uitsonderlike musiekblyspel op die planke te bring. Adriaan Meyer, skrywer van die Kanna-bekroonde drama Prinsloo Versus, is koördineerder van die opvoering en behartig ook die regie. Die vermaaklikheidsterre Nataniël, Niël Rademan en Christo Davids sal as letterlike sterre in die stuk optree. Elkeen vertolk op afsonderlike aande die rol van die Bethlehemster wat die pad aanwys na die stal. En die teks, sê Meyer, is anderster: die skape kletsrym en steel die herders se bakkie en die drie wyse manne uit die Ooste sukkel om hul GPS gelees te kry. Altesaam 200 skoolkinders uit die omgewing is alreeds kliphard aan die oefen vir die produksie wat op 12 November by die Breytenbach-sentrum begin. Dit word op 13 en 14 November herhaal en daar sal elke aand twee vertonings om 18:30 en 20:30 wees. Kaartjies vir die blyspel kos R100 en die opbrengs is vir welsyn bestem.
More
News
|