Leerders skitter by Wetenskap Expo
2005-09-01
TWEE leerlinge van Nederburg Primêr, Ashley Bitcher en She-Earl Reid, is die trots van die Paarl by vanjaar se Stellenbosch streekskompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes.
Dié Graad 7-leerders se projek oor rommel, wat in die herwinningskategorie ingeskryf is, is gekies om die streek te verteenwoordig by die nasionale Expo aan die einde van September in Pretoria.
Hul projek sal saam met 14 ander projekte uit die Overberg, Boland en Weskus in Pretoria te staan kom teen die land se beste wetenskapsprojekte.
Ashley en She-Earl, wat ook ‘n silwer medalje met hul poging verower het, het te staan gekom teen stewige opposisie.
Met meer as 220 projekte en 326 deelnemers was vanjaar se Stellenbosch streekskompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes die grootste nog sedert daar in 2000 begin is om leerders uit die Boland, Overberg en Weskus op so ‘n wyse tot wetenskaplike navorsing te inspireer.
Dit is vanjaar weer gereël deur die Fakulteit Opvoedkunde se Instituut vir Wiskunde en Wetenskap Onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch (IWWOUS), in samewerking met die Fakulteit Natuurwetenskappe.
Vanjaar het 38 skole deelgeneem. Die Drakenstein Vallei is verteenwoordig deur Bergrivier Sekondêr, Al Azhar Moslem Instituut, Amstelhof Primêr, Ebenezer Primêr, Imboniselo Primêr, Klein Nederburg Sekondêr, Langabuya Primêr, Mary Help of Christians, Mbekweni Primêr, Nederburg Primêr, New Orleans Primêr, New Orleans Sekondêr, Orleansvale Primêr, Paulus Joubert Primêr en William Lloyd Primêr.
Die geleentheid is Vrydag amptelik geopen deur prof Walter Claassen, viserektor: navorsing van die Universiteit van Stellenbosch.
Volgens Expo-voorsitter Erika Hoffman van IWWOUS is sy trots en dankbaar dat die expo so suksesvol afgeloop het.
“Dit is veral verblydend om te sien met hoeveel inisiatief en innovering veral leerders van ons plattelandse skole vorendag kom,” het sy gesê.
Sy het die organiseringspan en veral die beoordelaars wat heelwat Universiteit Stellenbosch personeel ingesluit het, vir hul insette bedank.
Goue medaljes is aan 25 projekte toegeken, silwer aan 33 projekte en brons aan 35 projekte. Spesiale pryse, geborg deur Eskom of departemente aan die Universiteit van Stellenbosch, is ook aan uitstaande leerders gemaak.
Een hiervan het gegaan aan Anathi Ngesana en Zizipho Kwini van Mbekweni Primêr. Hul projek oor misdaad het ‘n spesiale prys ontvang van die US se Departement Maatskaplike Werk. Hulle het ook ‘n brons medalje verower.
Angelica Adams en Jennaweve Williams van Orleansvale Primêr het met hul projek in die omgewingskategorie oor informele nedersettings ook silwer gewen.
More
News
|