Young Peoples stoomroller voort
2009-10-29
DIE eerste kriektspan van Young Peoples is steeds onoorwonne ná die naweek se wedstryde in die Boland Premierliga. Peoples het Saterdag op Malmesbury die tuisspan met 8 paaltjies afgeransel. Die Tiere het vir Malmesbury uitgeboender vir slegs 94 lopies in 34ste boulbeurt. Die kaptein, Brendon Adams (5/17 in 9bb) het die boulaanval gelei. Hy was goed bygestaan deur Lorenzo Jacobs (3/23 in 7). Peoples het die nodige 98/2 reeds in die 15de boulbeurt behaal vir ’n bonuspunt. Adams (48*, 11x4) was Peoples se uitblinker. Sondag, op Worcester, moes Peoples weer ’n lae teiken van 95 lopies jaag teen Noord-Boland. Peoples se draaibouler, Jarier Alexander (3/9 in 6), het uitgeblink met die bal. Peoples se kolwers het swak begin, met hul lopietal op ’n kol 87/8. Die openingskolwer en onder-kaptein, Edwin Jacobs (51*, 6x4), het egter met sy onoorwonne kolfbeurt groot karakter getoon om die Tiere tot 97/8 te help vir ’n oorwinning in die 40ste boulbeurt. Met Brett Mitchell (74, 9x4) op dreef, kon Peoples II (275/8) Saterdag, op die Dal, vir Drakenstein Edu I met 96 lopies klop. Drakenstein het op 100/2 na slegs 19 boulbeurte, op dreef gelyk vir ’n oorwinning, met Cameron Cupido (37, 8x4) en Dane Schoor (42, 6x4) die beste kolwers. Te danke aan ’n goeie terurvegpoging deur Peoples, met Tom-Ross Fortuin (3/30 in 9) aan die voorpunt, is al Drakenstein se manne uitgehaal vir 179 lopies. * Saterdag het Peoples I loslootjie terwyl die tweedes weg speel teen Klapmuts. Peoples III speel weg teen Paarl IV op die Parys-velde
More
News
|