HJS maak stem dik
2009-10-29
Jaco van Wyk
HOËR JONGENSKOOL is verlede Woensdag, tydens die Paarl driehoekige atletiekbyeenkoms (Interskole-atletiek) op die Brugstraatsportgronde, welverdiend benoem as die seunswenspan, met Gim se dogters wat dieselfde titel, vir die skoner geslag, ingepalm het. Die seuns van HJS (307 punte) het die seuns van Hoërskool Gimnasium (268) en Hoër Landbouskool Boland (224) uitgestof, terwyl Gim se dogters (252) hul eweknieë van La Rochelle (240) en Hoër Meisieskool (231) ore aangesit het. Beide die toekennings vir Victor en Victrix Ludorum het aan Gim-atlete gegaan. Jan-Louw Kotze (o.15) is met 1498 ASA-punte, aangewys as die Victor Ludorum, met sy rekordpogings in die diskus- (65,96m) en gewigstoot-items (18,41). Wilmé Pretorius (o.15, diskus, 65,96m) is gekroon as Victrix Ludorum. HJS se seuns-atlete het ook uitstekend gevaar om die trofees vir die o.14 en o.17 ouderdomsgroepe te wen, met die seuns van Hoërskool Gimnasium wat geseëvier het in die o.15-afdeling. Gim se dogters het die o.17-dogters-afdeling gewen, met Hoër Meisieskool wat in die o.14 en o.15 afdelings geseëvier het. Altesaam vier meisiesrekords is ook op die dag verbeter (en een geëwenaar), met altesaam vyf rekords (en een geëwenaar) wat deur die seuns-atlete laat spat is. Rekords is opgestel deur: Meisies - Marise Malherbe (HMS, o.14, 800m 2:27,9); Ilse Louw (Gim, o.17, Diskus 34, 39m); HMS2 o.15 aflosspan (4x400, 4:27,4); Gim o.17 aflosspan (4x400m 51,3). Suzaan Jacobs (Gim, o.14, 80m-hekkies 13,2) het die rekord geëwenaar. Seunsrekords: Jan Louw Kotze (Gim, o.15, Diskus 65,96 en gewigstoot 18,41); Arthur Festus (o.15 HJS, 100m 11,4); HJS o.14 aflosspan (4x100m 46,0). Dylon Fairbridge (o.15, Gim, 100m-hekkie, 13,5) het die rekord geëwenaar.
More
News
|