WAT is die kanse deesdae om jou selfoon terug te kry as dit wegraak? Byna 0%.
Maar gelukkig het ek deel uitgemaak van daai piepklein persentasie wat dit wel teruggekry het.
Dus wil ek graag dankie sê aan die personeellid van Tafelberg Meubels, ene Francois, wat gesorg het dat ek wel my selfoon teruggekry het.
Saterdagoggend het ek daar iets gaan soek en my foon het klaarblyklik in die winkel uit my sak geval.
Daarna het ek nog ’n klomp draaie gery. Seker eers ’n goeie uur en ’n half nadat ek daar weg is, besef ek dat my foon nie meer in my sak is nie.
En dit is nie die foon wat vir my van waarde is nie, maar die baie belangrike inligting daarop.
So het my seun my nommer op sy foon geskakel en ’n vriendelike vrou het geantwoord en gesê dat die selfoon veilig by die ontvangslokaal van die meubileerders is.
Al wat ek kon sê is, sjoe, terwyl ek die sweet van my voorkop afvee!