By TC Newman trek almal net hulle skouers op 2009-11-05
EK het nog nooit só ’n dag beleef nie. En dit nogal by ’n hospitaal. Dit is die eerste keer wat ek saam met my ma na TC Newman gegaan het vir haar ondersteuning.
Sy moes die internis besoek waarvoor sy ’n afspraak gehad het. Dit is al ’n maand gelede gereël. Maandagoggend 06:30 gee sy haar kaart in vir haar lêer. Ons het gewag en gewag. So kom en gaan die mense maar sy kry nie haar lêer nie. Om 11:30 tree sy in en vra wat gaan aan. Toe het hulle haar kaart verloor! Na ’n gesoek kry hulle die kaart met die “wonderlike” nuus dat hulle nie haar lêer kry nie. Al haar toetse wat sy moes doen is in die lêer. Hulle trek net hul skouers op.
So stap ons na die internis se spreekkamer om die nuus mee te deel, maar die dokter is nie meer daar nie, hoewel sy ’n afspraak het. Almal trek net hul skouers op.
My ma kry toe ’n nuwe datum vir ’n besoek en sê dat hulle haar lêer asseblief moet soek. Die antwoord wat sy kry, is dat teen daardie tyd sal hulle seker al die lêer gevind het. Dit is swak. Teen die tyd wat sy weer daar uitkom, kan sy al dood wees.
Die liassering is in ’n chaotiese toestand, alles is deurmekaar en onnet (ook die tuin). Geen wonder dat dokumente wegraak nie.
Moenie net Paarl Hospitaal opknap nie - hier gaan dit sleg.