Spog-hond 'ontvoer' deur polisie
2009-11-05
Lise Beyers
’n PAARLSE gesin was die afgelope week getraumatiseer nadat hul lieflinghond deur twee Paarlse polisie-amptenare by die verkeerde huis afgelaai en vasgeketting is. Die opreg-geteelde Siberiese Husky, Leica, het twee weke gelede uit die eiendom van haar eienaars in Paarl-Sentraal verdwyn. Haar mens-ma, Sonja Rust, het oral na haar gesoek en nadat ’n foto van Leica in Paarl Post verskyn het, het ’n vrou van Pleinstraat, naby die Rust-woning, haar gebel en gesê dat sy die hond dieselfde aand gevind het. Sy het die polisie ontbied en vir hulle gevra om die hond na die DBV te neem vir veilige bewaring. Maar die polisiebeamptes vertel toe dat ’n kollega wat in Chicago, Paarl-Oos, woon, onlangs ook so ’n hond verloor het. Die hond is daar afgelaai, waar sy in die buitelug vasgeketting is langs ’n boosaardige pit-bulterriër. Die Rusts het die afgelope naweek self besoek afgelê by die woonstel in Chicago, waar die hond op haar naam gereageer het, maar die Paarl polisiekonstabel hou vol dat die hond hare is. Sonja het Leica dadelik herken aan haar oë, wat verskillende kleure is, asook ander gesigsmerke. Die Rusts is na die Paarl polisiestasie. Nadat hulle hul storie vertel het, is ’n patrolliewa na die konstabel se woning gestuur, waar sy steeds geweier het om die hond te laat gaan. ’n Husky-kenner wat foto’s van Leica , asook die hond in Chicago onder oë gehad het, sê “geen twee Huskies het dieselfde gesigsmerke nie. Dit is juis dít wat vir hulle so kenmerkend maak. Die hond in Chicago het presies dieselfde gelaatstrekke as Leica.” Vandeesweek het die konstabel wel ingestem om vir die Husky na die veearts te neem. Die hond was oorstelp van vreugde toe sy die Rust-gesin sien. Die veerarts, dr Emile du Plessis, het daarop gewys dat die hond gesteriliseer is, terwyl Van Reenen gesê het haar hond was nie. Volgens hom was daar geen twyfel dat die hond Leica is nie. En so is ’n oorstelpte Leica met haar verligte eienaars herenig. Hulle het dadelik vir haar ’n mikroskyfie laat insit, en daarna is sy na die honde-salon geneem om ’n bietjie gepamperlang te word. * Chicago is ’n bekende gebied waar hondegevegte in die geheim gehou word. Die geheimhouding waaronder hierdie gevegte plaasvind, is van so ’n aard, dat selfs die DBV nog nie hierdie bloedsport kan stuit nie.
More
News
|