Bjorn staan anker met kolf
2009-11-05
Jaco van Wyk
MET Bjorn Hollenbach se onoorwonne 105* teen Malmesbury Saterdag, het dit vir GMT Paarl-Oos se eerste krieketspan ’n drafstap gekos, om af te reken met hul opponente. Paarl-Oos het, op hul tuisveld, eerste gekolf en 240/3 aangeteken. Hollenbach het soos ’n masjien gekolf om sy honderdtal te behaal, wat 6x4 ingesluit het, met Bruce Miller (64, 8x4) en Morné de Vries (25*, 1x4) wat hom goed bygestaan het. Malmesbury, wat slegs 67 kon opstapel, was uitgeboul deur ’n Blitzkrieg-boulaanval, gelei deur Paarl-Oos se Jade Adams, wat 4 paaltjies laat kantel het vir 21 lopies. Die tuisspan se Lee-Irvin Alexander (2/13); Wayne Minnies (2/22) en Krisnan Oosthuizen (2/6) het ook hul kant met die bal gebring. Paarl-Oos se tweede span (224/9) het op hul beurt die klub se diepte onderstreep, toe hulle lag-lag klaargespeel het met Bergrivier II, wat slegs 89/10 kon behaal. Keagen Petersen was met 65 lopies (7x4, 2x6) die Paarliete se uitstaande kolwer. Enrico Appollis was met 4/25 Paarl-Oos se beste bouler. Paarl-Oos III (274/10) het na Stellenbosch gereis om vir Van der Stel III (236/9) op hul tuisveld te gaan regsien. Met 105 lopies (12x4 en 5x6) was Wayne Jantjies van Paarl-Oos verwoestend, met Curtley Davids (39, 6x4) self op dreef. Roderick Allies (3/41) en Earl Brown (3/15) het goed geboul vir die wenspan. * Saterdag speel Paarl-Oos I teen Bergrivier (Weltevrede); Paarl-Oos II teen Drakenstein Edu I (New Orleans) en Paarl-Oos III teen Paarl III (Allandale). Die klub bied Saterdag-aand ’n karaoke-aand by New Orleans krieketveld se klubhuis.
More
News
|