Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'Stutfabriek' duidelik steeds goed-geolie

'Stutfabriek' duidelik steeds goed-geolie
 
2009-11-05

Jaco van Wyk

EEN van die voorste vervaardigers van kwaliteit vaste-voorspelers in Suid-Afrika, Hoër Jongenskool, se voormalige kragmanne, het die afgelope naweek hul alma mater se naam laat voortleef.

Dit moes beslis op die een of ander manier ’n ‘eerste van sy soort’-oomblik gewees het, want in al die eersteklaswedstryde wat die naweek op die televisie uitgesaai was, was daar minstens een Boishaai Old Boy, wat die skrum vir sy span geanker het.

In verlede Vrydag se twee Curriebeker-kragmetings, het Janro van Niekerk (loskopstut) sy ding vir die Kavaliers gedoen teen die Pumas, terwyl Tiaan de Kock in die Arende/Luiperds-wedstryd, vir die Arende op vaskop-stut gesak het.

Saterdag was die D-dag van drie finale - die o.19 finaal, die o.21 finaal, asook die Curriebeker-finaal.

Vir die Cheetahs se o.19’s (teen die Leeus o.19’s op Loftus Versveld), het Marcel van der Merwe ’n barshou gespeel.

HJS se eerstespan-slot en kaptein van 2008, William Clift, was ook in dié wedstryd in aksie vir die Cheetahs, terwyl Ashley Kohler, eintlik ’n stut, as haker opgekom het vir die Leeus se o.19’s.

Charles Marais het vir die Cheetahs se o.21’s (teen die Haaie), in die voorry gesak terwyl die Springbok, Gurthro Steenkamp, in die Curriebeker-finaal op loskopstut gesak het vir die 2009 kampioene, die Blou Bulle.

Al dié spelers is eens op ’n kol deur HJS se eerstespanafrigter, Richard Visagie (voormalige Boland haker), gebrei.

Die oud-Gimmies Jean de Villiers, Dylan des Fountain, Marius Joubert en De Wet Barry (asook belowende jong spelbrekers soos Johan Sadie, Stokkies Hanekom en Jean Stemmet), het eens op ’n kol as senters uitgedraf vir húl alma mater.

In dié geval kan daar seker na Gim verwys word as een van die hoofvervaardigers van kwaliteit-senters in Suid-Afrika - al dié spelers is eens afgerig deur die oud-Boland skrumskakel, Phillip Taylor (Gim se eerstespan-afrigter).

Net so ook kan Klein Nederburg Sekondêr en die Hoër Landbouskool Boland, met spelskeppers soos Elgar Watts (Boland Kavaliers), Burton Francis (Blou Bulle), Derick Hougaard (Saracens) en Willem de Waal (WP), bekend staan as leerskole vir topklas-losskakels.

Die feit van die saak is egter dat daar sekerlik nog nooit vantevore soveel spelers afkomstig van een skool, gedurende een naweek se topklas rugby, in dieselfde posisie uitgedraf het vir hul onderskeie spanne nie.

Met nog ’n oud-Boishaai-stut in JD Moller, wat uitdraf vir WP, en vanjaar se SA Skole vaskopstut, Frans Malherbe (HJS se eerste span kaptein van 2009), is daar duidelik geen beter leerskool vir voorrye, as HJS nie.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za