Bok-breier vereer
2009-11-05
Jaco van Wyk
EN daar het jy dit. Peter de Villiers, afrigter van die beste internasionale rugbyspan ter wêreld, is Maandagaand aangewys as Suid-Afrika se afrigter van die jaar. Dié toekenning is aan die Paarlse breier gemaak, nadat die Springbokspan ook welverdiend aangewys is as Suid-Afrika se span van die jaar, tydens SA Rugby se toekenningsaand. Hoewel hy onder geweldige kritiek deurgeloop het van die Suid-Afrikaanse publiek, sedert sy aanstelling as Bok-afrigter in 2008, was De Villiers glad nie in ’n ‘wie laaste lag’-bui toe hy sy toekenning ontvang het nie. ’n Nederige De Villiers, wat saam met die Springbokke vanjaar die Britse Leeus verslaan het, asook die Drienasiesbeker verower het, het eerder alle krediet aan al die ander rolspelers in die Springbok-groep gegee. Met kommentaar soos, “almal in SA rugby het dit moontlik gemaak,” en “mens kan nie verkeerd gaan met ’n uitstekende kaptein soos John Smit nie,” is dit goed om te weet dat De Villiers se voete nog ferm op die aarde is. Tydens dié glansgeleentheid, wat plaasgevind het in Johannesburg, is die kragtige Sewes Springbok van Wellington, Frankie Horne, ook aangewys as die SA Sewesspeler van die jaar. Horne is ’n oud-leerder van Hugenote Hoërskool. Hoewel nóg ’n oud-leerder van Hugenote, Juan de Jongh (WP), geen toekennings ontvang het nie, het sy goeie spel vanjaar hom op twee kortlyste laat beland, naamlik die Absa Curriebeker Premier-divisie se speler van die jaar en die SA Rugby jong speler van die jaar. Die oud-Gimmie Ricardo Croy het ná ’n puik seisoen vir die SWD Arende, die kortlys gehaal vir Absa Curriebeker Eerste divisie speler van die jaar. ) Intussen sal Juan de Jongh nie te suur wees dat hy nie Maandagaand ’n toekenning ontvang het nie. De Jongh se uithalerspel vanjaar in WP se middelveld, het aan hom ’n plek in Peter de Villiers se Springbokgroep verseker. Die oud-Gimmie Ashley Johnson is ook beloon met ’n plek in De Villiers se uitsoekgroep, ná puik agtstemanspel vir die Cheetahs. Beide spelers sal na verwagting vir die Bok-vyftiental in die twee weekwedstryde in aksie wees, teen die klubspanne Leicester Tigers (môre-aand 6 November 21:30) en Saracens (17 November 19:30). Die ander plaaslike spelers in die Springbokgroep is die gevestigde spelers Schalk Burger (oud-Gimmie) en Gurthro Steenkamp (oud-Boishaaier).
More
News
|