Kavaliers gerelegeer
2009-11-05
Jaco van Wyk
DIT is amptelik: die Boland Kavaliers gaan in 2010 meeding teen Suid-Afrika se naasbestes in die eerste liga van die Curriebeker-reeks. Dit is die prys wat die Wynboere moet betaal, nadat hulle in verlede Vrydag se beslissende promosie-relegasiewedstryd op Witbank teen ’n begeesterde Pumas-span met 3-40 aan die verloorkant was. ’n Week vroeër was dit die Kavaliers wat geseëvier het op Wellington, toe hulle dieselfde Puma-span met 36-35 geklop het. Hoewel die relegasie van ’n eens kragtige Suid-Afrikaanse rugbyprovinsie maar ’n bitter pil is om te sluk, is sommige kenners van mening dat dit vir eers ’n goeie ding is vir die Boland-unie. Die gevoel is dat die Wynboere, ná ’n aantal sukkelseisoene wat steeds op die Fidentia-debakel geblameer kan word, uiteindelik met ’n broodnodige herbou-proses kan begin. Die Kavaliers wil egter duidelik nie langer as een seisoen in die tweedebeste liga meeding nie, want die goeie nuus is dat die Wynboere steeds hard vry na oorsese talent. Volgens ingeligte bronne is die Boland-unie steeds vasbeslote om die dienste van Pita Alatini (Nieu-Seeland), Justin Harrison (Australië), Eusebio Guinazo en Santiago Fernandes (beide van Argentinië) te bekom. Volgens Saru se regulasies mag ’n unie nie meer as twee oorsese spelers kontrakteer nie. Die gevoel is egter dat dié reël ’n bietjie gebuig kan word, op grond van twee redes; naamlik dat die Boland-unie steeds ’n finansiële straf (wat buite hul beheer was) uitdien, te danke aan Fidentia, asook die feit dat Boland een van die voorste unies is wat die ontwikkeling van swart spelers in Suid-Afrika aanbetref. Of Saru egter hul reël sal breek (of buig), sal slegs deur tyd bepaal word.
More
News
|