DIE dramagroep van Klein Nederburg Sekondêre Skool het weer eens bewys dat hulle geensins hoef terug te staan vir skole wat drama as vak het nie.
Die skool se dramagroep het met die tweede plek weggestap by vanjaar se Woordfees in die drama-kategorie met die drama, Pad na vergifnis.
Behalwe die kontantprys vir die skool, is kontantpryse ook gewen deur die skrywer/regisseur/verwerker van die teks, Ernest Loth en twee belowende akteurs, Nicole Francis en Curtley Timmy.
Volgens Loth, ’n onderwyser by die skool, het al die leerders egter uitstekend gevaar en bygedra tot die sukses van die produksie.
Die toneelstuk is gebaseer op die voorgeskrewe kortverhaal, Op soek na Johnnie September, wat geskryf is deur Melvin Whitebooi.
Dit handel oor ’n polisieman wat ’n onskuldige jongman, Johnnie September, doodskiet en hom etiketteer as “terroris”.
Hy doen hom voor as ’n joernalis en gaan verder ondersoek doen oor die slagoffer by sy familie in Blikkiesdorp in Uitenhage. Hier vind hy uit dat Johnnie hoegenaamd nie die terroris was wat hy geglo het hy is nie.
Maar sy grootste ontnugtering is die feit dat Johnnie se familie die polisieman wat verantwoordelik is vir hul seun se dood, vergewe het. Dis ook vanwaar die nuwe titel van die drama, Pad na vergifnis.
Die dramagroep het ook by die onlangse Durbanville-Skoletoneelfees goed gevaar met hul drama, “En vandag is daar”.
Indien daar skole is wat Op soek na Johnnie September as voorgeskrewe werk doen en wil hê die groep moet dit by hul skool kom opvoer, kan hulle Loth kontak by 021-862-2720 of by 071-026-1306 tussen 08:00 en 15:00.