Onverskillige taxi's stel lewens in gevaar
2009-11-12
EK ry elke oggend van Noorder-Paarl na my werkplek by Droomers Nissan in die Paarl. Dit het nou al meermale in spitstyd gebeur dat, wanneer ek my flikkerlig aansit om links by die motorhawe in te draai, ’n taxi teen groot spoed aan my linkerkant verbyjaag. By die verkeerslig by die kruising van Hoofstraat en Markstraat, was ek op 6 November in die regterkantste baan om reguit te ry en wou dan links beweeg om in te draai by Droomers Nissan Garage. Ek was reeds oor die robot en my flikkerlig was aan in die proses om na die linkerkantste baan te beweeg, toe ’n taxibestuurder in sy taxi met passasiers reguit aangery kom teen ’n vinnige spoed - uit die linkerkantste baan waar hy veronderstel was om net links af te draai in Markstraat. Hy het amper in my vasgery - as ek nie in my truspieël gekyk het en teruggeswaai het nie, was daar ’n ongeluk. Hy het by Droomers gestop om petrol in te gooi en ek het ook daar gestop en hom vertel hoe onverskillig hy ry en al wat hy kon sê is: “sorry, sorry” (die registrasienommer is CJ 16142). Hierdie taxi’s wil nie wag in die regterkantste baan by die robot voor die stadsaal nie, maar gebruik die linkerbaan om reguit suidwaarts te ry om so die wagtyd te verminder. Aal hoe meer van die taxibestuurders dink die paaie behoort aan hulle en ander moet net uit hul pad bly – dit was nie die eerste keer dat ek sien so iets gebeur nie. ’n Paarl dae later het presies dieselfde weer met my gebeur by dieselfde plek. ’n Taxi (CJ 60687) het weer reguit oor die robot jaag vanuit die linkerkantste baan en amper weer binne-in my voertuig in. Hoeveel keer het ek al gesien dat ander mense in gewone motorvoertuie daar afgetrek word en beboet word indien hulle dit doen. Ek hoop die verkeersmanne gaan die taxi’s hier ’n bietjie vasvat. Nicolien Claassens
More
News
|