Dankbaar na terugvind van geliefde Leica
2009-11-12
AS opreg dankbare en baie verligte eienaars van Leica, ons Husky hond wat vir twee weke vermis was en uiteindelik onder bedenklike toestande in Chicago opgespoor is, noem ek graag: * Slegs omdat Leica as vermis in die Paarl Post geadverteer is, kon ons haar terugvind. * Die lesers van die Paarl Post het met verstommende goedwilligheid van heinde en verre gereageer via oproepe en sms’e. Sodoende het ons die korrekte leidrade ontvang om Leica op te spoor. Duisende dankies aan een en almal wat my gekontak het. Julle omgee en betrokkenheid is ’n riem onder die hart! * Verslaggewer Lise Beyers het onverpoos met totale toewyding alle leidrade nagespoor, en deur middel van haar bemiddeling alle partye na die tafel, of dan die spreekkamer, gebring. Dankie Lise dat jy geen steen, ketting of agterplaas onaangeroer gelaat het nie, in jou soeke na die waarheid. Jou integriteit verdien spesiale vermelding. * Misplaaste identiteite en -eienaarskap kan deur middel van redelikheid opgelos word. Dankie vrouekonstabel Van Reenen vir jou bereidwilligheid tot samewerking. * Die Paarl Post is werklik ’n top-publikasie wat die lief en die leed van sy gemeenskap ter harte neem. Dankie Paarl Post! Sonja Rust
More
News
|