Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Pastoor doen nie sulke goed nie

’n Pastoor doen nie sulke goed nie
 
2009-11-12

Liezl Dyson

"EK dink dis onmenslik wat mnr Gouws gedoen het. Hy het hom voorgestel as ’n man van God, ’n pastoor. Die Here doen nie sulke goed nie.”

Só het Sarah van Wyk van Lutzville getuig in ’n hofsaak waarin ’n Paarliet, Marthinus Gouws, in die Paarlse Streekhof aangekla word van bedrog. Gouws ontken skuld.

Hy word daarvan beskuldig dat hy aan die moeder van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak (Van Wyk) voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms met advokaat Deon van Rooyen het, waarvolgens hy as “agent” vir Van Rooyen optree.

Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te kry wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Dit sluit in R350 as Gouws se konsultasiefooi, R700 vir ’n prokureur en R10 000 vir die advokaat.

Van Wyk het getuig: “Mnr Gouws het gesê hy weet van iemand wat goed is, hulle noem hom die Hotnotsgot - mnr Van Rooyen.”

Die klaer se dogter, Juliana Boois, het getuig dat ’n lening aangegaan is om die geld aan Gouws te gee.

“Mnr Gouws het gesê sodat dit nou nie lyk asof hy skelm is nie, skryf hy vir ons ’n kwitansie uit. Toe hy gevra is hoekom skryf hy die kwitansie uit sonder deurslagpapier en ’n stempel, antwoord hy, hy het vergeet om te koop,” het Van Wyk gesê.

Clyde Meyer, Gouws se regsverteenwoordiger, het aan Van Wyk ’n dokument gewys en gevra of dit haar handtekening onderaan is waarop sy “ja” geantwoord het, maar bygevoeg dat sy nie dié spesifieke dokument kan onthou nie.

Nadat Streeklanddros Nonawethu Smile die dokument wat as bewysstuk ingehandig is, onder oë gehad het, het sy gesê sy merk dat die onderste gedeelte van die dokument se skrif duidelik verskil van die boonste gedeelte. Indien die oorspronklike nie ingehandig word nie sal dit nie as bewysstuk gebruik word nie, het sy gesê.

Volgens Van Wyk sou Gouws die Maandag wat haar seun se hofsaak moes begin het, hof toe gegaan het om te vra dat die saak uitgestel word “tot wanneer Van Rooyen gereed is om as advokaat op te tree”.

“Die Maandag bel mnr Gouws en sê sy ‘lift’ het hom teleurgestel, hy sal nie by die hof wees nie.”

Die staatsaanklaer het toe aan haar verduidelik het dat die staat vir haar seun regshulp kan voorsien.

“Die volgende dag toe kom mnr Gouws by die hof, toe sê ek vir hom hy is gesuip. Hy kan mos nie gesuip daar aankom en nonsens aanjaag nie.”

Met die hulp van die regshulpbeampte is die klagtes teen haar seun op die derde dag teruggetrek.

Volgens Hendrick Boois, Van Wyk se seun wat ook getuig het, het hy die Dinsdag toe Gouws by die hof opgedaag het, vir hom verduidelik dat hulle nie meer van sy diens gebruik gaan maak nie. Hendrick en Van Wyk het getuig dat Gouws daardie dag voor die hof moes verduidelik wie hy is en wat hy daar soek.

“Hy het baie oor sy woorde geval en die regter wou hom laat toesluit,” het Hendrick vertel.

Boois het gesê hy het ná die hofverskyning vir Gouws gevra wanneer hy die geld vir hulle kan teruggee.

“Hy het gesê ek moet hom bel met my bankbesonderhede. Toe ek hom bel, het hy gesê hy gaan nie die geld gee nie, want my ma het ’n saak teen hom gemaak.”

Advokaat Deon van Rooyen, wat ook ’n staatsgetuie is, het getuig dat hy en Gouws saam op skool was, maar glad nie ’n ooreenkoms het nie.

“Hy het my genader om in die saak op te tree, maar ek het nie belang gestel nie.”

Van Rooyen het gesê dat hy beslis nie die Hotnotsgot is nie.

Die saak is tot 3 Februarie uitgestel.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za