Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vrou oorleef aanval deur swerm bye

Vrou oorleef aanval deur swerm bye
 
2009-11-12

Lise Beyers

’n VROU het verlede week by die dood omgedraai, nadat sy Woensdagmiddag deur ten minste 1000 bye gesteek is.

Die moeilikheid het begin toe ’n byenes in ’n boom in Hospitaalstraat, Paarl, digby die ongevalle-ingang van die hospitaal, gesteur is, vermoedelik deur bou-aktiwiteite om die gebou.

Die uiters kwaai swerm bye het toe chaos veroorsaak in die omgewing, en al wat leef en beef probeer bydam.

Talle mense het gevlug voor die “swart muur” van bye, en selfs bouers doenig met die bouwerk van die hospitaal moes die hasepad kies.

Een vrou, wat bekend is hiér vir die snoepie wat sy bedryf op ’n sypaadjie oorkant die hospitaal, is erg toegetakel deur die bye.

Azaza Hoosen (64) is só oorval dat toe haar familie toevallig op haar afgekom het, haar gesig en arms pikswart was van die bye.

“Alles het so vinnig gebeur, ek kon nie wegkom nie. Ek het ’n handdoek oor my kop probeer gooi, maar die bye was reeds op my,” het ’n steeds baie swak Hoosen vanuit haar hospitaalbed gesê.

“Ek het ook my hele kop binne-in ’n emmer vol ys gedruk, maar steeds het hulle vir my getakel.”

’n Ambulansbeampte wat by die hospitaal stilgehou het om ’n pasiënt af te laai, het gesien hoe Hoosen deur die bye getakel word en het haar te hulp gesnel.

“Ek het nader gehardloop en die bye het ook vir my begin bydam,” vertel Juan Cameron. “Toe ek by haar kom, was sy reeds erg gesteek deur die swerm.”

Teen hierdie tyd het Hoosen byna haar bewussyn verloor, en Cameron het ’n rolstoel gaan haal en vir haar by ongevalle ingehelp.

Maar die bye wou hul aanval nie stuit nie, en hulle is saam met Hoosen by die hospitaal in.

“Iemand het ’n blik Doom gegryp en my kop, wat steeds toegepak was met bye, begin spuit.

“Hulle het afgeval en seker so ’n emmer vol het dood op die vloer gelê.”

Tussen die chaos deur is verskeie personeellede van die hospitaal ook gesteek.

Hoosen is dringende mediese behandeling toe­gedien en in die hoësorgeenheid geplaas vir die volgende paar dae.

Haar toestand is eers Maandag as bevredigend bestempel. Sy het wel water op die longe en haar slukderm is steeds geswel, dus sukkel sy om te praat en eet.

“Die personeel by die Paarl Hospitaal was regtig wonderlik. As dit nie vir hul spoedige optrede was nie, sou ek sekerlik nie vandag hier gesit het nie.”

Die probleemswerm is deur ’n byeboer verwyder, maar daar is glo nog ’n swerm in die omtrek.

Ná Hoosen se gru-ondervinding is sy nou bekommerd dat daar ’n herhaling van die voorval sal wees, en dié keer sal die slagoffer nie so gelukkig wees soos sy nie, veral as dit ’n kind is.

* A woman has survived after being attacked by a swarm of bees.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za