Perde-skouspel in Agter-Paarl
2009-11-12
DIE skouspelagtigste en waaghalsigste perdesportsoort ter wêreld, en die genieting van kampioenwyne om die spanning te verlig, word binnekort tydens die jaarlikse Perd- en Wynfees in die Agter-Paarl, op die Nelson-Wynlangoed, gekombineer. Die fees word op 14 en 15 November gehou met die afhandeling van die laaste twee bene van die driefase perdesportkampioenskappe van die WPHS (hindernisbaan en skouspring) op die Sondag. ’n Parade van perde in die tuig voor ouderwetse rytuie word ook op dié dag gelewer. Die eerste fase van die driefase-kompetisie, wat dressering behels, word die vorige dag gehou. Die hooforganiseerder van die fees, Alan Nelson, sê die doel daarvan is om hulde te bring aan die rol van die perd oor baie dekades op wyn- en graanplase in veral die Wes-Kaap. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat perd- en wynliefhebbers vir dié geleentheid saamtrek op die Nelson-Wynlangoed, langs die R44, tussen Windmeul en Wellington. Hier is ook ’n driefase-hindernisbaan van internasionale standaard wat ontwerp is deur die bouer van die baan vir die vorige Olimpiese Spele in Hong Kong, David Evans van Engeland. Vir meer inligting oor die fees, kontak Hennie Basson by 072-273-6042.
More
News
|