Jonas, jy maak my dag!
2009-11-19
EK het gewonder waarom ons strate en sypaadjies in die Paarl so bitter vuil is. Nou verstaan ek dit, want wat is dan lekkerder as om langs die trekker besope te lê as om op die trekker te sit en vaak word, want soos die spreekwoord sê: “Drank verdra nie onreg nie!” (berig in Paarl Post 3 November). Dit is geensins vreemd om hordes kere die Munisipaliteit in die Paarl te skakel en te kla oor vuil strate en sypaadjies nie. Man, dit is so goed jy vra vir die yskas gaan staan op die stoep. Dit is soos Bok van Blerk sing, verkiesingstye wil almal die baba soen, maar laat die verkiesing nou net verby wees, dan kom die werklikheid na vore. Sowat van belastingbetaler se geld verkwis skreeu hemel toe. Die vullisverwyderingsvragmotor was veronderstel om Vrydag die vullisdromme te kom leeg maak. Hierdie vragmotor het eenvoudig Klein Reservoirstraat verby gery en nadat ek maar weer eens moes skakel om te verneem waarom nagelaat is om die dromme te kom leeg maak, het ‘n vroue-amptenaar my gevra “Is u doodseker van u saak?” Wat beteken so ’n vraag? Miskien moes ek geantwoord het “Nee, ek skakel sommer net om ’n bietjie met u te gesels.” Soos menige vorige kere word jou telefoonnommer en naam gevra, want sy gaan jou terugskakel, wat natuurlik nooit gebeur nie, want sy moet eers ondersoek gaan instel. ’n Dag later kom hierdie groot vragmotor die straat opgery en ledig die vullisdromme. Baie dankie vir dit. Maar as dit nie geldverkwisting van die belastingbetalers se fondse is nie, dan weet ek nie wat noem ’n mens dit anders nie, tensy hierdie vragmotor sonder brandstof en slytasiekostes beweeg. Weer eens kontak ek die vroue-amptenaar en wou van haar weet waarom sy my nie teruggeskakel het nie, siende dat sy my klagte in twyfel getrek het. Haar antwoord aan my was die vragmotor was besig met sy roetes. Op ’n Saterdag? Ag kom nou, die vullisverwyderingvragmotor het nog nooit op ’n Saterdagoggend vullisdromme in Klein Reservoirstraat kom ledig nie en as die roetes nou so skielik verander het, waarom dan die duur gedrukte kalender waarop presies aangedui word waar en wanneer vullisverwydering vir ’n volle jaar plaasvind? Ag nee wat, die Munisipaliteit kan gerus ’n slag hul sokkies optrek en diens lewer waarvoor die belastingbetalers behoorlik opdok. En skaam julle, die mense wat ons strate so bemors met rommel Elbe Smit
More
News
|