Blink toekoms wink vir Mahoney
2009-11-19
TREVOR MAHONEY, gewese finansiële student by die Boland Kollege Paarl, het onlangs die SA Amateur-gholfspan in Egipte verteenwoordig, tydens die Afrika Amateur-gholfkampioenskappe.
Mahoney het vanaf 27 September tot 2 Oktober die Suid-Afrikaanse Amateurspan gehelp om as algehele kampioen gekroon te word by die Afrika Amateurs Gholfspan-kampioenskappe, waartydens hy algeheel negende geëindig het uit deelnemers afkomstig van die 13 deelnemende lande (insluitende Kenia, Egipte en Botswana). Met dié prestasie staan Mahoney nou ook ’n goeie kans om sy professionele toerkaart te verkry om sy buiging in die professionele arena te maak. “Dit was ’n groot eer om my land te verteenwoordig en ek was baie trots op ons span se prestasie,” sê die 20-jarige Paarliet. Mahoney is tans hard aan die oefen vir ’n toernooi wat binnekort in Johannesburg gehou gaan word, waar hy sal poog om onder die top agt plekke te eindig, wat hom in staat sal stel om sy professionele toerkaart te kry. Mahoney swaai die metaalstokke reeds vanaf negejarige ouderdom. “Toe ons jonk was, was my broer baie goed - strate beter as wat ek was - en ek het baie by hom geleer,” sê Mahoney. Te danke aan harde werk, is Mahoney raakgesien deur die Ernie Els Foundation, wat hom geborg het om in verskillende lande te gaan deelneem, asook om vir sy studies te betaal. Mahoney moes egter einde September sy studies staak, om sodoende sy gholf-droom aan te durf. “Ek het dit gedoen omdat ek besef dat dit ’n kans van ’n leeftyd is om professioneel gholf te kan speel. Ek wou dié kans beslis nie laat verbygaan nie,” sê Mahoney. Hy is onlangs vir die derde jaar agtereenvolgens gekies vir die Boland A-gholfspan.
More
News
|