EK antwoord op die brief “Matriekafskeid word oordryf” in die uitgawe van 12 November.
My kind het ook haar matriekafskeid gehad hierdie jaar. Sy het my regtig die minimum gekos en sy het absoluut pragtig gelyk.
Sy het geen eise aan my gestel nie, wou nie die duurste rok en skoene gehad het nie, en haar oë het geblink oor haar pragtige rok wat haar onderwyseres met oneindig baie liefde en geduld vir haar geskep het.
Sy het vir 12 jaar lank hard gewerk en haar deel gedoen - my nooit teleurgestel nie, met ’n pragtige, stil persoonlikheid het sy alles gedoen wat sy moes, 100 %. Daarom, as ek kon en ek het die finansies gehad - sou ek ook vir haar die duurste en beste wou gee, maar sy is met liefde, eerlikheid en respek grootgemaak, sy weet waaroor die lewe gaan en wat belangrik is, en sy weet dat sy met dít wat sy gehad het, nie een tree teruggestaan het vir iemand anders nie. Sy was tevrede en ek ook.
Die lewe gaan nie altyd oor die duurste nie, en as ouers net meer betrokke wil raak by hulle kinders en hulle minder bederf met die duurste - omdat hulle dit nie gehad het nie - sal hierdie kinders se prioriteite reg ingestel wees.
Gee meer liefde en insig en minder geld. Gee aandag en let op hulle ware behoeftes.
Ek voel regtig dat die Paarl ongelooflike pragtige tieners het en as ons hulle net meer aandag gee, sal hulle nie op allerhande ander maniere aandag soek soos om in ’n doodskis by ’n matriekafskeid te wil opdaag nie.
As kinders buitensporig is, is dit omdat hulle ouers dit toelaat. Hoekom kinders hê as jy nie in alle opsigte na hulle wil omsien nie?
Moenie kinders met geld omkoop nie. Wees te alle tye eerlik met hulle, laat hulle beskermd voel by jou en gee liefde, liefde en nogmaals liefde. Dit is ’n wenresep. Onthou, ons is nie hier vir ons eie doel nie, maar vir God se doel. P Smook