Paarl speel klaar met koringboere
2009-11-19
PAARL se eerste krieketspan het Saterdag, op die Parys-velde, hul opponente van Malmesbury met 10 paaltjies kafgedraf, en sodoende ’n belangrike bonuspunt ingepalm. Die wedstryd is verkort na 30 boulbeurte per span nadat die skeidsregters beslis het dat ’n area van die buiteveld te nat is. Met Malmesbury wat ingestuur was om eerste te kolf, kon hulle slegs ’n skamele 75 lopies opstapel teen die vinnige boulers van die Paarl. Hein Adonis (4/3), Clayton August (2/6) en Ultalyn Ernstzen (2/19) het die paaltjies vir Paarl geneem. Paarl se openingskolwers, Godfrey Stevens (27*, 4x4 en 1x6) en Elreigh Jansen (42*, 8x4) het aan Paarl ’n oorwinning van 10 paaltjies verseker. Hul vennootskap van 78 lopies in 9,2 boulbeurte, het 12 grenshoue en 1 ses ingesluit. Paarl II en III se wedstryde teen Malmesbury II en Northdene II onderskeidelik, was gekanselleer weens ’n nat kolfblad. Paarl IV (166/8) het vir Van der Stel III (165/10) op Bergzicht met 2 paaltjies getroef. Kyle Marthinussen (2/20) en Wilbur Alexander (3/29) was Paarl se beste boulers, met Lindsay van der Berg (23, 2x4), Desmond Marthinussen (20, 4x4), Brenton van Schoor (32*, 2x4) en Kyle Marthinussen (21*, 2x4) Paarl se beste kolwers. Saterdag speel Paarl I teen Wellington I op Wellington, Paarl II teen Young Peoples II op die Dal, Paarl III teen Paarl-Oos III op Allandale en Paarl IV teen Spes Bona II op Parys.
More
News
|