DIE bekende Afrikaanse liedjieskrywer en sanger, Gian Groen, is Vrydag 20 November om 20:00 in die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis-teaterkafee, te sien.
Groen het in 1998 met sy eertydse rockgroep, Spinnekop, sy debuut in die musiekbedryf as liedjieskrywer en sanger gemaak. Na ’n paar jaar van ‘rock’ en ‘roll’ het Spinnekop ontbind en het Gian homself toegespits op sy solo-loopbaan.
Dit was met sy treffer, “Vier Seisoene Kind”, wat Groen vir Laurika Rauch geskryf het, dat hy sukses as liedjieskrywer en sanger behaal het. Hy is intussen genomineer as beste nuweling by die Geraas Musiek Toekennings. Op ander geleenthede is Groen ook as beste liedjieskrywer en beste rock-kunstenaar genomineer.
Gian Groen spog al met vyf CD produksies en is tans besig met die skryf van splinternuwe akoestiese musiek wat hy beoog om vroeg in volgende jaar op die rakke te kry.
Kaartjies is R80 en kan bespreek word by teater@breytenbachsentrum.co.za of 072-1152-913.