Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jong Juweel

Jong Juweel
 
2009-11-19

Jaco van Wyk

LOGAN LAWRENCE skrik nie vir die ouer gimnaste nie. Nee, sy wys hulle eerder wie is baas.

Tydens die SA Artistiese gimnastiekkampioenskappe in Pretoria, het Logan juis gewys dat grootte nie saak maak nie, toe sy met ongeveer 50 van die beste vlak 4 gimnaste in die land klaargespeel het om gekroon te word as SA kampioen.

En nou, te danke aan haar besonderse veggees, en natuurlik haar ongelooflike gimnastiektalent, rol die toekennings een vir een vir Logan in.

Met ’n SA kampioenskapskroon op 9-jarige ouderdom, asook haar skool, Laerskool Gimnasium, se toekenning vir junior sportvrou van die jaar, beleef Logan waarlik ’n droomjaar.

Om die kersie op die koek te plaas, is Logan ook aangewys as vandeesmaand se Paarl Post en SuperSport Let’s Play sportster van die maand.

Logan se spogvertonings tydens die SA kampioenskappe (’n goue medalje op die vloer, asook ’n silwer medalje in sprong) het verseker dat sy kampioenstatus verwerf het.

Die beste van alles is egter die feit dat Logan dié medaljes onder die neuse van haar teenstanders moes gaps, met van hulle wat 2 tot 3 jaar ouer is as sy.

“Die rede hoekom Logan teen ouer gimnaste moes meeding, is omdat sy verlede jaar so goed in vlak 2 gevorder het, dat daar besluit was om haar ’n vlak te laat oorslaan,” sê Logan se afrigter by Wynland Gimnastiekklub in die Paarl, Linda Nieuwoudt.

Logan se positiewe ingesteldheid maak egter dat sy nie geïntimideer voel deur die ouer gimnaste nie.

“Die ouer kinders maak my nie bang nie. Gimnastiek is my talent en dit is lekker om te wen, maar dit is belangrik om dit eerstens net te geniet,” sê Logan.

Volgens Nieuwoudt is Logan se talent ontdek toe sy op drie-jarige ouderdom begin het om spontaan wawiele en arabierspronge te doen, waarna haar ouers gedink het dat dit goed sou wees om vir Logan in te skryf vir meer formele afrigting.

“Logan het toe begin met Kidi-gym in haar graad R-jaar, wat op daardie stadium slegs een maal per week was,” sê Nieuwoudt.

“Ek kon egter vanaf dag een sien dat dié klein lyfie oor ongelooflike potensiaal beskik,” voeg sy by.

“Die daaropvolgende jaar het Logan se ouers haar dadelik ingeskryf vir kompetisies, met die gevolg dat sy vir die eerste keer haar Bolandkleure verwerf het.”

Logan het gedurende haar graad 2 jaar, vlak 2 gedoen, waarin sy net so uitsonderlik presteer het. Haar afrigters het toe besluit dat dit beter sal wees om haar daardie gegewe jaar uit kompetisies te hou, sodat Logan net op moeilikheidsgraad kon konsentreer.

“Logan het so goed gevorder, dat sy ’n vlak kon oorslaan,” sê Nieuwoudt.

“Sy was natuurlik baie jonk vir vlak 4, aangesien sy aan die begin van die jaar slegs agt jaar oud was. Sy sou moes meeding teen gimnaste wat reeds gedurende die jaar elf sou word.”

Te danke aan haar toegewydheid, asook gehalte-afrigting deur Nieuwoudt en haar dogter Martinette Nieuwoudt, kon Logan dié hoër trappie met selfvertroue aandurf.

Martinette se kennis en bystand was veral van onskatbare belang, aangesien sy op haar dag self verskeie kere ’n SA kampioen was. Sy het ook Suid-Afrika tydens die Sone 6 kompetisie verteenwoordig.

Volgens Linda Nieuwoudt was Logan se liefde en honger vir gimnastiek nog altyd aansteeklik.

“Sy oefen tans vyf dae van die week en is reeds van baie vroeg af in die saal besig om op die apparate rond te speel.

“Logan is ’n groot trots vir die klub en nóg ’n trotse gimnas wat op die klub se lys van SA kampioene gevoeg kan word,” voeg Nieuwoudt by.

Volgens Logan is die vriende wat ’n mens maak een van die lekkerste dele van gimnastiek, “maar dit is ook lekker omdat mens baie kan spring en net mal kan gaan,” sê Logan.

“Dit is veral lekker om medaljes te wen.”

Volgens Logan wil sy nog gimnastiek doen tot sy 19 jaar oud is.

“Dan wil ek graag doen wat my afrigters doen, en jong gimnaste afrig.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za