Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Goeie buurmanskap waai in stofwolk weg

Goeie buurmanskap waai in stofwolk weg
 
2009-11-19

Sieb Sieberhagen

ONMIN met die bure se stof in Cornellestraat in Paarl-Noord, neffensaan waar die Honeydew-ontwikkeling volgende jaar gaan afskop, maak nou allerhande warrelwinde en kan dalk binnekort tot in die siviele hof waai.

’n Rits ontstoke inwoners is behoorlik droog in die keel nadat Vissershok Investments Beperk, die ontwikkelaars van die Honeydew ontwikkeling, drie weke gelede die area waar die bouwerk gaan begin, skoongeskraap het. Dit het nou letterlik en figuurlik ’n stofwolk veroorsaak.

Sewe van die bure het reeds hulle prokureur opdrag gegee dat die ontwikkelaars iets aan die situasie moet doen en ’n briefwisseling is tussen die partye se prokureurs aan die gang.

“Ons kan nie soos gevangenes in ons eie huise leef nie,” sê De Wet du Toit, een van die ongelukkige bure.

“Ons moet alles toehou, die vensters toeplak, wasgoed moet binne drooggemaak word en ons moet die hele week lank huis skoonmaak. Moenie eens praat van die swembaddens nie - die stof waai oral in.

“Ek kan verstaan dat iemand gekla het oor die onkruid en die moontlikheid van slange. Maar nou gaan skraap ’n ontwikkelaar die grond skoon en steur hom glad nie aan Drakenstein Munisipaliteit se reëls en regulasies nie.

“Die ontwikkelaar kon maar net ’n bossieslaner gebruik het en die gras tot op grondhoogte afgesny het. Die ontwikkeling gaan glo ook eers in die helfte van volgende jaar begin,” sê hy.

Die ontwikkelaars sê in ’n skrywe aan die stofbewaaide inwoners dat hulle goeie buurmanskap hoog ag en dat hulle op versoek van aanliggende grondeienaars besluit het om dit skoon te skraap.

Hulle sê ook veevoergewasse gaan aangeplant word aangesien hulle twyfel of die ontwikkeling voor die middel/einde van 2010 gaan plaasvind.

In een van die eerste briewe sê Vissershoks Investments dat die winderige toestande as ’n frats beskou moet word en nie deur hulle voorsien kon word nie.

Volgens hulle prokureurs, Laäs en Scholtz van Durbanville (Scholtz is een van die ontwikkelaars ), ontken hulle enige aanspreeklikheid en sê hulle dat hulle nie strydig is met die wet nie.

“Ons kliënt het ook strooibale gepak om die wind wat oor die grond waai te breek. Hulle gaan ook ’n middel gebruik wat met water gemeng word en oor die grond spuit. Dit sal die sand verhard. Dit sal gebruik word sodra die perseel uitdroog en die wind weer ’n probleem raak,” sê Helenus Scholtz.

Intussen is Drakenstein Munisipaliteit dit eens met die klaers. ’n Munisipale amptenaar het glo reeds die ontwikkelaars opdrag gegee om die stof te bekamp.

Die ontwikkelaars wou geen kommentaar lewer nie aangesien die saak reeds deur prokureurs hanteer word.

* Residents of Paarl North are up in arms about the dust from a new development.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za