AAN ma wat omgee (19 November). Ja, ek weet wat my kind doen. Hy is ’n avontuurlustige jong man om op trots te wees. Hy hoef niks te doen om in te wees nie, want daar is nie ’n “in” as hy nie daar is nie.
Die ma wat gekla het oor jong motorryers wat gevaarlik ry sonder lisensie by ’n plaaslike skool het veroorsaak dat daar drie kinders die Vrydagoggend in die hoof se kantoor was om verdere emosionele afbrekende opmerkings aan te hoor en dit nogal in eksamentyd. Hoe kleinlik kan ’n mens wees.
Hy verdien nie die aantygings nie. Gelukkig kom hy uit ’n sterk, liefdevolle familie en sy selfbeeld is nou nog sterker as ooit.
“Ma wat omgee” moet ’n lewe kry. As jy kinders het kry ek hulle jammer, want hulle sal seker met niks mag eksperimenteer nie. Alhoewel my seun jonk is het hy meer bestuursvernuf en ondervinding as die meeste padgebruikers.
Hy het ’n leerlinglisensie en ek laat hom toe om, met ’n gelisensieerde bestuurder langs hom, skool toe te ry omdat die paaie nie veilig is vir ’n kind op ’n motorfiets nie.
Ons almal was jonk en nou en dan kom die kindwees na vore en dan tol die wiele ook maar lekker op die pad...
Mamma wat weet