MY eerste punt gaan vir die veiligheidswag wat ek by die informele parkeerplek by Huguenot-stasie opgemerk het en die tweede vir die ernstige poging om die waterprobleem by dieselfde parkeerplek op te los.
Sterkte met die werk Spoornet. Ons hou die vordering fyn dop.
As gevolg van die agteruitgang met dienslewering, verdien ons Stadsvaders egter minder punte hierdie keer.
Die ongewone groot reën wat die afgelope maand geval het, het die areas van onderprestasie duidelik blootgelê.
Ons strate was en sommige is nog steeds, besaai met rommel wat deur die sterk water meegesleur is.
Dit is te verstane dat sterk water rommel sal meesleur, maar wanneer dieselfde rommel ons stormwater-mangate verstop, is daar geen verskoning nie.
Die mangate in baie strate is tot bo vol met sand, klippe en ander rommel wat grootliks tot die probleem bydra.
Word ons stormwater-mangate nog skoongemaak en is daar nog wetstoepassing teen rommelstrooiing of laat ons maar God’s water oor God’s akker loop, rommel en al?
Ek was verbaas toe ek onlangs in die nuusblaaie lees dat Paarl die “Beste Dorp/Munisipaliteit” kortlys gehaal het en sou hewig kapsie gemaak het indien Paarl op hierdie stadium so ’n toekenning sou gekry het.
Abie Martin