Jy mors nie met Capones nie
2009-11-26
’n MENS mors nie met Al Capone - oftewel Capones - nie. Dit is verlede week bewys toe personeellede van hierdie gewilde restaurant in Kerkstraat, Wellington, ’n vermeende kredietkaartbedrieër toegetakel het. Die drama het Woensdagaand plaasgevind toe ’n jong man wegneemetes ter waarde van byna R100 bestel het. Toe dit by die betaalslag kom, wou hy met ’n kredietkaart betaal, maar die masjien het aangedui dat dit vermoedelik ’n gesteelde kredietkaart was, in die naam van ene Dreyer. Eienaar, Gert Lindeque, het onraad vermoed. Hy het die inbelsentrum geskakel om seker te maak dat dit wel ’n gesteelde kaart is. Intussen het personeellede die man probeer besig hou, terwyl die polisie in kennis gestel is. Hy het egter snuf in die neus gekry en die hasepad gekies. Personeellede het soos een mens die man agterna gesit, by Kerkstraat op, waar hy agter die Spar-supermark aangekeer is. Junaid Karriem (27) van New Rest, is deur die polisie in hegtenis geneem. Die kaart is vermoedelik die vorige dag by ’n plaaslike motorhawe gesteel. Ooggetuies het gesê dat hulle vir Karriem by die restaurant sien aankom het in ’n wit BMW wat glo aan ’n bekende bendeleier op die dorp behoort. Hierdie bendeleier, en gekende dwelmsmous, gebruik glo jongelinge om sy vuil werk te doen. Die polisie stel verdere ondersoek in.
More
News
|